Louzanne Coetzee en haar nuwe gidshond, Isabel (3).


Bloemfontein se paralimpiese heldin is binnekort op pad om deel te neem aan die London-marathon.

Louzanne Coetzee (29) is Dinsdag (09/08) amptelik genooi om as enigste atleet met ’n gestremdheid wat nie in ’n rolstoel deelneem nie, aan dié kwalifiserende marathon vir die Paralimpiese Spele in Parys in 2024 deel te neem.

Die London-marathon vind op 2 Oktober plaas, waar sy saam met semi-professionele atlete gaan deelneem.

Twee weke later gaan sy en haar gids, Claus Kempen, (hy is haar gids in die marathonne) as pasaangeërs deelneem aan die Kaapstad-marathon.

Dit sal die eerste keer wees dat dié twee as pasaangeërs deelneem in ’n marathon nadat hulle vroeër vanjaar in dié hoedanigheid in die Twee Oseane-halfmarathon gehardloop het.

Louzanne, wat ’n huismoeder by Huis Akasia is en deesdae weer ’n ingeskrewe student by die Universiteit van die Vrystaat, het al aan twee Paralimpiese Speles en ses wêreldkampioenskappe deelgeneem.

Sy het al die wêreldrekord in die 5 000 m (T11) verbeter en is ook die wêreldrekordhouer in die T11-marathon en die Afrika-rekordhouer in die 1 500 m. Sy neem saam met gids Estean Badenhorst aan baan-items deel.

Haar fokus is nou op die Paralimpiese Spele in Parys, maar om te kwalifiseer vir sowel die marathon as die 1 500 m waarvoor die voorbereiding baie verskil, wil sy die kwalifiserende wedlope ver genoeg uit mekaar uit doen om haar fokus te hou.

“As ek net eers kwalifiseer vir die marathon, sal dit my sommer baie gemoedsrus gee in my voorbereiding vir die spele,” sê sy.

Louzanne is ook vanjaar ’n ambassadeur vir die Spar- virtuele wedloop wat op 3 September oor die land heen gehou word, so daar lê nou vir haar lekker uitdagings voor.

“Ek het al vier marathons gehardloop, maar die lekkerste was beslis die Tokio-marathon,” sê Louzanne oor dié wedloop op die spele verlede jaar waarin sy en Claus ’n bronsmedalje verower het.
Louzanne se ander passie is om mense te inspireer. Dit doen sy in die koshuis vir jong mense daar, maar ook as motiveringspreker. “Dit is vir my lekker om mense hoop te gee.”

photo-group

You need to be Logged In to leave a comment.