Bloemfontein se Paralimpiese atleet Louzanne Coetzee het Maandag (10/07) op die Wêreld Paralimpiese Kampioenskap ’n silwermedalje in die 1 500 m (T11) losgehardloop.
Sy en haar gids Estean Badenhorst het met hierdie vertoning in Parys, Frankryk, ’n seisoenbeste tyd van 4:48.13 behaal.
Met hierdie vertoning kwalifiseer sy vir die Paralimpiese Spele volgende jaar in Parys.
Coetzee het ook verlede jaar gekwalifiseer vir die marathon toe sy in Oktober verlede jaar saam met haar langafstandgids Claus Kempen die London-marathon voltooi het.
Sy het dus nou gekwalifiseer vir altwee items waarin sy in die Paralimpiese Spele wil deelneem.
In 2021 het sy ’n silwer in die 1 500 m (T11) en ’n bronsmedalje in die maraton (T12) behaal.
In Maandag se wedloop was dit net Nancy Koech van Kenya wat haar in die 1 500 m kon troef. Koech se tyd was 4:46.55.