Lug jou mening oor wetsontwerp oor betreding

Daar is heelwat kommer oor die voorgestelde Wetsontwerp op die Onwettige Betreding van Eiendom waarop mense nou kommentaar kan lewer.


Daar is heelwat kommer oor die voorgestelde Wetsontwerp op die Onwettige Betreding van Eiendom waarop mense nou kommentaar kan lewer.

Jaco Mulder van die VF Plus in die Hantam-plaaslike munisipaliteit sê dit is in direkte botsing met onder meer die landelike beveiligingstrategie soos ontwikkel deur die polisie wat voorsiening maak vir die implementering van ? protokol om toegang tot plase te bestuur.

Die voorgestelde wysigings kan verder ook nie in harmonie met die Wet op Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg (Esta-wetgewing) bestaan nie.

“Dit maak dit nou selfs makliker vir betreders om grond te beset en onwettige strukture op te rig wat die regte van grondeienaars ernstig kan skend.

“Betreders word in werklikheid nou deur die voorgestelde wysigings beskerm deur die verweer dat iemand kan aanvoer dat hy glo hy wel by magte was om ’n eiendom te betree, sê Mulder.

Afsperrings, heinings en kennisgewing moet nou eksplisiet en sigbaar die terme en voorwaardes aandui waarop ’n bepaalde eiendom betree mag word.

Die wetswysigings bepaal verder dat ’n grondeienaar ’n onwettige betreder moet nader en versoek om die perseel te verlaat. Dit kan lei tot direkte konflik, veral met die hoë misdaadsyfer en huis- en plaasaanvalle waaraan Suid-Afrikaners blootgestel is.

Die polisie beskik ook nie oor die vermoë en hulpmiddels om betyds te kan reageer in geval van onwettige betreding nie.

Die VF Plus doen ’n beroep op die publiek om voor 16 September 2022 die wetswysigings te lees op die departement van justisie se webwerf justice.gov.za/legislation/invitations/20220812-InviteToComment-UnlawfulEnteringOnPremisesBill.pdf en kommentaar te lewer per e-pos gerig aan AIBotha@justice.go.za.

Die wetsontwerp sal die Betredingswet 6 van 1959 vervang.

Die VF Plus sal die implementering van die wetsontwerp in die parlement teenstaan.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.