Lugdiens staak eersdaags dié vlugte

Airlink se vliegtuie sal van volgende jaar af nie meer tussen Bloemfontein en Kaapstad vlieg nie, en daaglikse vlugte op dié roete verminder reeds van Oktober af. Rodger Foster, uitvoerende hoof en besturende direkteur van Airlink, het dit op Vrydag


Airlink se vliegtuie sal van volgende jaar af nie meer tussen Bloemfontein en Kaapstad vlieg nie, en daaglikse vlugte op dié roete verminder reeds van Oktober af. Rodger Foster, uitvoerende hoof en besturende direkteur van Airlink, het dit op Vrydag 12 Julie bevestig.

“Airlink sal van 1 Oktober af sy vlugte op die roete van drie na twee per dag verminder en sal van 1 Januarie 2025 af die roete heeltemal staak,” het hy gesê.

Ná die vermindering in vlugte sal daar dus twee Airlink-vlugte per dag van Kaapstad na Bloemfontein en twee van Bloemfontein na Kaapstad wees.

FlySafair is die enigste ander lugdiens wat dié roete vlieg.

Foster sê ondanks ’n sterk vraag na vlugte op die roete maak die huidige kaartjiepryse dit nie ekonomies haalbaar om voort te gaan nie.

“Die kapasiteit op die roete het onlangs ’n reuse-toename beleef weens ’n mededinger se groter vliegtuie wat ingespan word. Ons bedryf is broos en besaai met lugdienste wat slagoffers geword­ het van hul eie oorkapasiteit en onvermoë om hul koste te dek.”

Foster sê gemiddelde kaartjiepryse dek nie eens die roete se brandstofkoste nie en Airlink het geen begeerte om in ’n kaartjieprysoorlog betrokke te raak nie.

“Soos wat ’n mens van ’n verantwoordelike onderneming sou verwag, beoordeel Airlink voortdurend die kommersiële lewensvatbaarheid van elk van die meer as 60 roetes en markte wat dit bedien.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.