Ian Bezuidenhout, wat vir sy uitsonderlike prestasie as skut erken is. Foto: Lientjie Mentz

Een van die benoemdes vir Novus Media en die Universiteit van die Vrystaat (UV) se Vrystaat Sportsterre-glansgeleentheid, wat vanjaar op Donderdag 9 Oktober aangebied is, was Ian Bezuidenhout.

Die benoeming was vir Sportman van die Jaar, aangewys deur Novus Media.

Leerders, studente en senior sportlui is vereer op dié toekenningsaand, geborg deur Standard Bank.

Bezuidenhout is vereer vir sy prestasie die afgelope jaar, en hy het pas weer uitgeblink op South African Precision Sport Shooting Federation (SAPSSF) se National Benchrest Championship, aangebied deur Free State Benchrest Shooting Association (FSBSA).

Op dag een van die kompetisie, wat van 6 tot 8 Oktober op die Excalibur FireArms-skietbaan by Welkom aangebied is, het hy goud gewen in die luggeweer-50m-onbeperkte klas. Hy het sy eie nasionale rekord vir AR 50m-onbeperk verbeter − van 707 punte uit ‘n moontlike 750 na 731 punte. Dié rekord van 731/750 is ook een punt beter as die wêreldrekord, wat hy geëwenaar het in die luggeweerwêreldbekertoernooi (ook vir “benchrest”) wat in Augustus in die Ruutikangas-skietsentrum in Finland aangebied is. Hy het ook ‘n bronsmedalje verwerf in die .22-randslag- internasionale sporter-klas en silwer in .22-randslag-ligtegeweer. Hy was derde in randslag-driegeweer, wat deur algehele randslag-klaspunte bepaal word, ondanks die feit dat dit sy eerste deelname aan ‘n nasionale randslag-kampioenskap was.

Vir hom was sy grootste sukses in die SAPSSF nasionale kampioenskap die sesgeweer-trofee vir beste algehele prestasie in alle klasse en dissiplines − ‘n aanduiding van die veelsydigheid van dié individuele skut.

You need to be Logged In to leave a comment.