Groot feesvieringe wag wanneer die gemeente van die St. Paulus Lutherse kerk in Dan Pienaar begin Desember sy 150ste bestaansjaar herdenk.
Die gemeente is in die beginjare in ‘n ou kerk in St Georgesstraat gehuisves, maar vergader sedert 1968 in die besonder mooi kerkgebou langs Emily Hobhouseplein.
St. Paulus is ‘n klein, lewenskragtige gemeente. In die eredienste word Afrikaans, Duits en Engels gepraat, op so ‘n manier dat almal verstaan.

Op 3 Desember word die gemeente se geboortedag in 1875 gevier met lesings oor die historiese bydrae van die Duitse gemeenskap in Bloemfontein. Dit word deur dr. Pascal Pienaar, prof. Matildie Wium en dr. Gideon van der Watt aangebied. Hulle sal elk oor verskillende fasette van die vroeë Bloemfonteinse Duitse gemeenskap uitwei.
Bywoning is gratis, maar bespreek voor 1 Desember deur e-pos te stuur na pastor.stpaulus@gmail.com.
Geskiedenis
In die vroeë jare het gemeentelede ‘n buitengewone rol gespeel in die ontwikkeling van die stad. Dit is duidelik met straat- en plekname wat herinner aan dié mense.

Dit sluit in die broers Carl en Gustav Fichardt wat die bekende Fichardt-handelshuis gevestig het, dr. C.J.G. Krause, die eerste mediese dokter en stigter van die ou Oranje-hospitaal, sy swaer dr. B.O. Kelner, stigter van die Nasionale Hospitaal en Nasionale Museum, C.R. Wocke, argitek van onder meer die Tweetoringkerk en die ou regeringsgebou waar die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Naln) nou gehuisves word.
Nog ‘n gemeentelid, Carl Borckenhagen, was koerantredakteur en persoonlike adviseur van presidente Brand, Reitz en Steyn.
In die eerste 50 jaar van Bloemfontein se bestaan was Duitsers meestal die burgemeester. Pres. Brand se vrou was ook in die Lutherse gemeente.

J.G. Grosskopf was in die beginjare vir 27 jaar die pastoor van die gemeente. Hy het tydens die Anglo-Boereoorlog heelwat gedoen om vroue en kinders in die wit en swart konsentrasiekampe te bedien en ná die oorlog noodhulp te verleen.
Dié mense se nageslag het ‘n rol in Suid-Afrika se ontwikkeling gespeel.
Musiek deel van vieringe
Musici bied op Saterdag 6 Desember die Louis van der Watt-gedenkkonsert in die kerk aan.
Van der Watt, wat onlangs oorlede is, was die gemeente se orrelis.
Die program deur die Cathedral Singers word gelei deur Lance Philip en soliste wat werke van Bach, Händel, Telemann, Mendelssohn en vele ander Duitse komponiste sal uitvoer.
Die soliste is Adri Maryke van Heerden, Anmari van der Westhuizen, Elize van Zuilenburg, Jan Beukes, Lance Phillip, Maretha Krige, Matildie Wium en Petrus Krige.
Kaartjies vir die konsert kos R120 en is op quicket.co.za beskikbaar.
St. Paulus se fees word afgesluit met ‘n diens op 7 Desember.
Dr. Gideon van der Watt, die pastoor van die gemeente, verduidelik die Lutherse tradisie is gebou op die vier pilare van “Christus alleen,” “genade alleen,” “geloof alleen,” en die “Woord alleen” − alles alleen tot die eer van God.
“Dit is ‘n mooi liturgie, en veral die tafel van die Here staan sentraal. Dié klein gemeente sien homself as ‘n tafelgemeenskap waarheen mense genooi word om te proe en sien hoe goed die Here is.”
Rig navrae by 072 725 8052.




You must be logged in to post a comment.