Lys van griewe oor leierskapraamwerk in Mangaung ál langer

Die ANC in Bloemfontein stel meer in mag belang as om dienste aan inwoners te lewer. Dit is die mening van die leier van die DA-koukus in die Mangaung-metro.


Die ANC in Bloemfontein stel meer in mag belang as om dienste aan inwoners te lewer.

Dit is die mening van die leier van die DA-koukus in die Mangaung-metro, Johan Pretorius.

In ’n nuusverklaring sê Pretorius die DA neem kennis van die nuuskonferensie wat die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, op 9 Januarie in Bloemfontein gehou het om te sê dat die ANC die Mangaung-metro se uitvoerende burgemeester, Mxolisi Siyonzana, gaan herroep.

“Ons neem ook kennis van Mbalula se opmerking dat die ANC nie met opposisiepartye moet saamwerk nie,” sê Pretorius.

“Die stelling is strydig met die werklikheid dat die ANC nie ’n volstrekte meerderheid het ná die 2021-verkiesing nie en dat hulle opposisiepartye benodig om ’n begroting en verwante beleid deur te voer,” sê hy.

Die DA in die metro het reeds in September verlede jaar ’n mosie van wantroue teen Siyonzana ingestel, maar dié mosie het nog nie op ’n raadsvergadering gedien nie.

“Ons wag nog vir die voorsitter van die raad om die mosie ter tafel te lê.”

Die laaste spesiale raadsvergadering is op 19 Desember gehou, maar daar is lanklaas ’n gewone raadsvergadering gehou.

Die voormalige hoofsweep van die metro, Vumile Nikelo, is in Augustus verlede jaar ná ’n mosie van wantroue wat deur die DA en VF Plus ingedien is, verwyder. ’n Nuwe hoofsweep moet nog gekies word.

Pretorius sê dit is duidelik dat die ANC nie omgee oor die onstabiliteit in Mangaung nie, maar slegs daarin belang stel om die metro tot sy voordeel te behou.

“Die administrasie het nog nie ’n bedankingsbrief van Siyonzana ontvang nie. Die ANC moet eers sy huis in orde kry voordat hy na die media hardloop,” sê Pretorius oor Mbalula se nuuskonferensie.

Hy sê ook die sogenaamde “troika” van die ANC het nie briewe ontvang om hulle van die planne om hulle te verwyder in te lig nie.

“As die amptelike opposisie sal ons die munisipaliteit en die regerende party aanspreeklik hou. Die DA en die inwoners van Mangaung is keelvol vir die interne faksiegevegte van die ANC wat die direkte gevolg het dat geen dienste in dié metro gelewer word nie. Die gedrag van die ANC in die metro is verregaande en moet stop,” het hy gesê.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.