Sewe voormalige ANC-raadslede van die Mangaung-metro in Bloemfontein wat deur hul party afgedank en uit die raad geskop is, het 1 Februarie hul appèlsaak in die hooggeregshof in Bloemfontein verloor om as raadslede te kan terugkeer.
Die applikante was Lehlohonolo Moqolo, Patrick Monyakoana, Makoa Cristophel Lelala, Mapaseka Mothibi-Nkoane, Chabeli Frank Rampai, Puseletso Leticia Seleke en Mpho Mokoakoa. Die respondent was die ANC.
Die saak is 26 Januarie voor drie regters, Johann Daffue, Celéste Reinders en Philip Loubser, aangehoor en die uitspraak is Donderdag deur regter Daffue gelewer.
Die sogenaamde “Mangaung-sewe” (M7) se appèl het gespruit uit ’n tussentydse bevel wat op 14 April verlede jaar op ’n dringende grondslag deur regter Ilse van Rhyn uitgereik is en wat toe op 23 Junie deur regter Pitso Molitsoane ’n finale bevel van die hof gemaak is. Die sewe moes teen 18 Mei in hofstukke geantwoord het hoekom die tussentydse bevel nie ’n finale bevel van die hof gemaak behoort te word nie.
Luidens die tussentydse hofbevel is gelas dat die M7 nie verder as raadslede van die Mangaung-metro mag optree nie.
Hulle mag toe ook geen ander rol van raadslede vervul het of by iets betrokke wees wat verwant is aan die posisie van ’n raadslid nie. Die M7 het deurentyd gesê hulle wil nie terugkeer na die ANC nie, maar dat hulle veg teen die kwessie dat daar gesê word dat hulle nie meer raadslede mag wees nie.
Hulle is toe ook verbied om ’n raadsvergadering op 14 April by te woon.
Ondanks die verbod, het hulle die vergadering bygewoon, wat daartoe gelei het dat dit ’n kworum was en Pappie Mokoena van die Afrikan Alliance of Social Democrats uit opposisiegeledere as burgemeester van Mangaung verkies is. Hoewel hulle nie vir Mokoena gestem het nie, het hul teenwoordigheid gehelp dat daar ’n kworum was. Die M7 is hierna van minagting van die hof aangekla omdat hulle ondanks die tussentydse bevel die vergadering bygewoon het. Hierop is hulle vrygespreek omdat hulle nie bewus was van die hofbevel wat in daardie stadium teen hulle verkry was nie. Daar was ook ’n brief van die Verkiesingskommissie wat aangedui het dat die M7 ten tyde van die vergadering steeds raadslede was. Ingevolge verlede week se hofuitspraak kan die M7 nie terugkeer as raadslede van die Mangaung-metro nie en hul ontslag uit die ANC in Junie 2022 is geldig.
Hul appèl is met koste van die hand gewys.
Volgens Mothibi-Nkoane, een van die sewe, was hulle in 2022 in die moeilikheid by die ANC omdat hulle teen die wil van die party vir Mzingisi Nkungwana as waarnemende munisipale bestuurder gestem het.