Eezet

Eezet Fourie en haar dogter, Kayla, met die Santam-kalenders waarop hul kunswerk onderskeidelik in 1991 en 2022 gepronk het

Nadat haar ma in 1991 dieselfde prestasie behaal het, verskyn die kunswerk van ’n gr. 7-leerling aan die Laerskool Willem Postma ook vanjaar op die Santam-kalender.

Eezet Fourie, oudleerling van die Eunice High School, se kunswerk is in 1990 gekies om as deel van Santam se kinderkunskompetisie op die 1991-kalender te verskyn.

Haar dogter, Kayla, wie se werk ook in 2018 op Santam se kalender gepronk het, se kunswerk To make your dream a reality is gekies vir die voorblad van vanjaar se kalender.

Eezet, wat ’n kunsskool in Dan Pienaar bedryf, sê hulle het verlede jaar al die sertifikaat ontvang om te bevestig dat Kayla se kunswerk op die kalender gaan verskyn.

“Ons was sommer lekker verras toe ons einde Februarie die kalenders ontvang en Kayla se kunswerk op die voorblad sien,” sê Eezet.

Dit is vanjaar die 59ste keer dat die kalender met kinderkuns uitgegee word.

Oor die jare heen het talle leerlinge van die Eezet Fourie-kunsskool se kunswerke op die kalender gepronk.

Ella Klopper het in 2015 dié prestasie behaal, waarna Mari-nè Hatting se kuns in 2017 gekies is. In 2018 het dié eer Kayla en Jennifer van Straaten te beurt geval. Kean Geustyn se kunswerk is in die kalender van 2020 én 2021 opgeneem, aangesien die kalender se kunswerke weens die Covid-19-pandemie herhaal is.

Volgens Cheri Josepth, koördineerder van Santam se maatskaplike betrokkenheid, is 3 243 inskrywings verlede jaar vir die kompetisie ontvang. Hieruit is 13 werke – een vir elke maand vir die jaar, en een vir die voorblad – vir die kalender gekies.

You need to be Logged In to leave a comment.