Die vier mense wat gister in die landdroshof in Bloemfontein verskyn het op klagte wat wissel van poging tot moord tot aanranding met die opset om ernstig te beseer ná die ernstige aanranding op ‘n tweejarige kind en sy sibbe, het hul borgtogaansoek teruggetrek.
Die vier, wat die ma van die tweejarige seuntjie, haar kêrel en hul twee huismaats insluit, het gister die vierde keer in die hof verskyn.
’n Groep betogers het voor die hof saamgedrom met plakkate en meer as 800 mense het ’n versoekskrif geteken wat eis dat borgtog nie aan die vier toegestaan word nie.
Die 34-jarige ma, haar 25-jarige kêrel en hul huismaats, Adriaan Cornelius Seriven (35) en Wendy Nel (40), het egter gister in die hof voor landdros Ephraim Sebe die borgtogaansoek laat vaar.
Die ma en haar kêrel mag nie geïdentifiseer word nie.
Die verhoor is tot 7 November uitgestel.
Luidens die jongste klagstaat staan die vier beskuldigdes op aanklagte van onder meer poging tot moord, aanranding met die opset om ernstig te beseer en kindermishandeling van die seuntjie en sy sibbe tereg. Daarmee saam staan hulle ook tereg op aanklagte van kinderverwaarlosing en die versuim om kindermishandeling aan te meld.
Die vier wat vir sowat drie maande saam in ’n huis in Noordhoek gewoon het, se beweerde dade het aan die lig gekom toe die tweejarige seun na die Pelonomi-hospitaal geneem is met ernstige beserings.
Personeel van die hospitaal het die polisie ingeroep oor die talle beserings aan die seuntjie se lyf. Die polisie het die welstand van die seun se boetie (4) en twee susters onderskeidelik ses en agt jaar oud, ook ondersoek.
Volgens Kaydene Davids van Netwerk24, was die beserings aan die tweejarige kind glo so erg, dat hy ’n noodoperasie moes ondergaan.
Volgens Davids het dit na verneem word in die ondersoek aan die lig gekom dat die kinders vir lang ure met hul arms voor hulle uitgestrek, sonder enige ondersteuning, moes staan. Indien hulle hul arms sou laat sak, is hulle glo geslaan.
Daarmee saam moes hulle ook vir lang tydperke op die vloer kniel met hul arms in die lug, verneem Netwerk24. Die kinders is ook glo geslaan as hulle die bed natgemaak het.
Toe die tweejarige in die hospitaal aankom, was sy oë glo blou en toegeswel en sy lip was in twee geskeur tot by sy neus.
Daarmee saam is hy glo ook oor ’n tydperk geslaan, geskop, in ’n bad koue water gedruk en daggarook is glo in sy klein mondjie geblaas. Die ma het glo probeer om sy negejarige suster in ’n bad water te verdrink deur haar vir ’n lang ruk onder water te hou.
Ná die beweerde aanrandings is die kinders glo aangesê om te sê dit is ene “oom Andries” wat dit aan hulle gedoen het.
Die drie sibbe is nou in ’n plek van veiligheid en die tweejarige sterk goed aan.
Die groep mense voor die hof en diegene wat die versoekskrif onderteken het, was verheug toe die vier beskuldigdes hul aansoek om borgtog laat vaar het.
Claudia Matlhoko kla aan.
Adv. Greg Nel tree vir die vrou se kêrel op, terwyl Regshulp SA die ander beskuldigdes verteenwoordig.
Konst. Anchen van Biljon verbonde aan die eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele misdrywe is die ondersoekbeampte in die saak.