Maak die nuwe skooljaar makliker

Die skole in die Vrystaat is nou net meer as ’n week oop vir die skooljaar van 2022. Die begin van die nuwe skooljaar is vir baie ouers en kinders oorweldigend en die vinnige pas waarteen alles gebeur is ’n uitdaging.


Die skole in die Vrystaat is nou net meer as ’n week oop vir die skooljaar van 2022. Die begin van die nuwe skooljaar is vir baie ouers en kinders oorweldigend en die vinnige pas waarteen alles gebeur is ’n uitdaging.

Elize Janse van Rensburg ’n pediatriese arbeidsterapeut en mede-eienaar van Sensory Roots Occupational Therapy in Bloemfontein, deel die volgende riglyne.

Wenke vir die nuwe skooljaar

Die begin van ’n nuwe skooljaar is ’n aanpassing vir almal – ouers en kinders. Sommige aanpassings, soos om vir die eerste keer skool toe te gaan of om by ’n nuwe skool aan te sluit is dalk groter, maar nietemin moet almal ná ’n lui-lekker Desembervakansie aanpas by die ritme van die nuwe jaar.

Die wenke sal help om die aanpassing so glad en maklik as moontlik te laat verloop.

* Roetine: Probeer om almal so gou as moontlik weer terug in ’n gemaklike roetine te vestig. Dit is heeltemal natuurlik om die gewone roetine oor vakansietye te laat vaar, maar wanneer kinders weer by die eise van ’n vol program moet aanpas, is ’n gemaklike en voorspelbare roetine goud werd om almal weer te help aanpas.
 Vir jong kinders help ’n visuele herinnering van hulle roetine soms om die roetine te hervestig. ’n Reeks prentjies met die oggend- en aandroetines, of ’n kaart wat die hele roetine van die dag aandui met prentjies is maklik om te maak. Afgehandelde take kan afgemerk word deur dit toe te plak of ’n magneet daarop vas te sit as jou prentjies op die yskas geplak is.
 Met ouer kinders is dit soms nodig om ’n nuwe roetine vir die nuwe skooljaar te skep. Deur ouer kinders deel te maak van besluite rondom die roetine, insluitend hul slaaptyd, opstaantyd en verantwoordelikhede in die huishouding kan hulle inkoop in die roetine verhoog word.

*Slaap: Genoegsame, gehalte slaap is noodsaaklik vir jonk en oud om optimaal te kan funksioneer. Maak seker dat die gekose roetine goeie slaap ondersteun, om die aanpassing by die nuwe skooljaar gladder te laat verloop. Wanneer kinders uitgerus is, kan hulle beter konsentreer, inligting beter prosesseer en ook hulle emosies beter reguleer.

* Beperk skermtyd voor slaaptyd – navorsing toon dat blootstelling aan skerms voor slaaptyd ’n negatiewe invloed het om die kwaliteit van ons slaap (Janssen et al. 2019, https://pubmed.ncbi.nlm.nih.gov/31778942/).
* Vir jong kinders wat sukkel om tot ruste te kom met slaaptyd, probeer om die roetine voor slaaptyd daagliks dieselfde te hou. ’n Rustige, warm bad gevolg deur spesiale tyd saam met mamma of pappa (gesels oor die dag, lees ’n storie, of ‘wees’ net saam) skep ’n kalm atmosfeer voor slapenstyd.

* ’n Gesonder dieet is na bewering een van die drie topnuwejaarsvoornemens onder volwassenes vir 2022 volgens countryliving. Dit is waarskynlik ook ’n goeie voorneme om by ons kinders se lysies te voeg, want dit ondersteun alle fasette van hul ontwikkeling.

 ’n Goeie ontbyt gee die brein daagliks ’n hupstoot. Nie alle kinders is lief daarvoor om vroeg soggens ontbyt te eet nie. Eksperimenteer met alternatiewe tot wat gewoonlik vir ontbyt aangebied word om heilsame voeding soggens te voorsien. ’n Vrugte- en jogurtskommel of tuisgemaakte ontbytstafies kan dalk net jou kind aanmoedig om wel iets voor skool te eet.  ’n Ander nuttige wenk vir onwillige ontbyt-etertjies is om die aand voor die tyd reeds ooreen te kom wat hulle die volgende oggend vir ontbyt wil eet. ’n Visuele voorstelling (amper soos ’n prentjie spyskaart) kan hulle help om toepaslike keuses uit te oefen.

 Probeer om ’n heilsame kosblik te pak. Met die aanpassing by die nuwe skooljaar, probeer om ook in te pak volgens dit waarvan hulle hou.

* Aktiwiteitsprogram: Met die nuwe jaar, kom daar ook nuwe keuses rondom aktiwiteite en buitemuurse aktiwiteite. Wanneer jy namens, of saam met jou kind keuses rondom deelname aan aktiwiteite moet uitoefen, probeer om te streef na ’n gesonde balans tussen aktiwiteite en vrye tyd.

Die belang van speel by jong kinders kan nie oorbeklemtoon word nie. Dit is van uiterste belang dat kinders genoeg tyd in hul dag sal hê om te kan speel ook. Dit is nie gesond vir ’n gr. 1-kind se fisiese of emosionele welstand om elke daglig-uur met formele aktiwiteite besig te wees nie. Speel is ’n kind se heel belangrikste werk, en die plek waar sosiale, emosionele, kognitiewe en fisiese ontwikkeling alles saam gebruik word om noodsaaklike lewensvaardighede vas te lê. Sorg dat jou kind tyd het vir speel en net wees – ook tieners het dit nodig.

 Fisese aktiwiteitsdeelname is ’n belangrike deel van ons kinders se algehele welstand. Pak die aanpassing by die nuwe jaar aan deur ook te oorweeg hoe jou kind aan fisiese aktiwiteite kan deelneem. As jou kind nie lief is vir tradisionele spansporte nie, kan ’n individuele aktiwiteit soos dans, karate of gimnastiek dalk vir hulle lekker wees. Moenie moed opgee as die eerste aktiwiteit nie aftrek kry nie. Blootstelling aan ’n verskeidenheid aktiwiteite skep die geleentheid om te eksperimenteer met waarvan hulle hou en waarvoor hulle dalk ’n verskuilde talent het.

* Klein lyfies in ’n groot nuwe wêreld: As jou peuter, kleuter of jong kind vanjaar by ’n nuwe omgewing moes begin skoolgaan, kan dit dalk aanvanklik moeilik gaan met aflaaityd en is trane nie ongewoon nie.

Enkele wenke wat hiermee kan help, sluit in:

* Voorbereiding: Probeer om jou kleinding so goed as moontlik voor te berei vir wat voorlê. Vertel vir hulle wat gaan gebeur (sluit besonderhede in wat vir joú kind belangrik sal wees – as hulle lief is vir diere, vertel vir hulle van al die diertjies in die klas, of as hulle hou van inkleur, gesels oor die kryte of potlode in die klas en wanneer hulle dit kan gebruik). As jou kleinding hou van stories kan jy selfs oorweeg om ’n storieboekie te maak met ’n storie oor hulle skool, en dit gereeld vir hulle voorlees.

* Help jou kleinding om ’n spesiale ‘rede’ te hê om skool toe te gaan. Bespreek dit egter eers met jou kind se onderwyseres sodat jy seker is dat hulle dit ondersteun. Jy kan byvoorbeeld vir jou kind vra om vir juffrou met ’n spesifieke werkie by die skool te gaan help (bv. plante water gee, troeteldiere voer, speelgoed uitpak, of wat ook al in jou kind se belangstellingsveld val), of om iets spesiaal vir jou by die skool te gaan doen (bv. ’n spesifieke prentjie teken of inkleur). Soms help dit om tuis iets saam te maak (’n prentjie, koekies bak, ’n krale armbandjie ryg) wat jou kleinding die volgende oggend vir juffrou kan gaan gee. Dit help net om die ingaan by die skool makliker te maak as die aandag op iets anders is.

* Kom mooi met jou kleinding ooreen wanneer jy hom/haar gaan kom haal, en wie dit gaan wees wat kom haal. Maak seker jy is betyds, en dat jy hou by jou beloftes. Indien onvoorsiene omstandighede opduik, laat weet jou kind se juffrou sodat sy jou kleinding kan voorberei op die verandering. Dit help om hul vertroue in jou daar-wees te behou en volgende aflaai-geleenthede te vergemaklik. 

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.