Staan die kans om ’n Pick n Pay-koopbewys van R3 000 te wen met die lekkerste potjiekos van die dag.
Die jaarlikse Pick-a-Potjie-kompetisie, aangebied deur Pick n Pay Reizis Square en die Laerskool Dr. C.F. Visser, vind vanjaar op 25 Mei by die skool in Estoire plaas.
Soos vorige jare gaan die potjiekos-konings en -koninginne sake uitspook om die beoordelaars met hul heerlike potjiekos te beïndruk.
In die proses kan gaste tussen die stalletjies kom drentel en self kies van watter pot (of potte) hulle wil eet.
Deelnemers aan die Pick-a-Potjie-kompetisie kan kies of hulle potjiekos wil maak met beesvleis, skaap, hoender of enige ander pot – soos afval. Verlede jaar was daar selfs ’n mosselpot.
’n Bonus vanjaar is dat De Oude Kraal wildsvleis skenk vir avontuurlustige potjiekosmakers wat daarvoor kans sien om ’n wildspot te maak.
Marie Lombard van De Oude Kraal sal uit die wildspotte wat met die vleis verskaf van De Oude Kraal gemaak word, ’n wenpot aanwys.
Die wenner van dié afdeling van die groter kompetisie, wen twee kaartjies ter waarde van R595 elk vir die De Oude Kraal WildsKOSfees en moet die fees op 9 Junie op De Oude Kraal ook ’n pot maak en ’n stalletjie beman sodat besoekers aan die fees van dié pot kan proe. Deelnemers kan ook hul eie wildsvleis verskaf, maar sal dan nie oorweeg word vir De Oude Kraal se potte nie.
Die meeste van al die bestanddele wat vir die potte gebruik word (ook die wildspotte) moet by Pick n Pay Reizis Square gekoop word en die kwitansies moet die dag van die kompetisie aan die beoordelaars getoon word.
Al die potte (wildsvleis ingesluit), sal beoordeel word en staan die kans om pryse te wen. Die algehele wenprys is ’n koopbewys van Pick n Pay Reizis Square van R3 000.
Inskryfgeld is R100 per pot en deelnemers kan om 07:00 met hul pot begin. Daar moet tien porsies uit elke pot geskep kan word en die porsies word ten bate van die skool verkoop.
Kry inskryfvorms en meer inligting by die Dr. C.F. Visser-skool of by Pick n Pay Reizis Square.
BloemNuus en Radio Rosestad is die mediaborge vir vanjaar se Pick-a-Potjie-kompetisie.


