Inwoners van Bloemfontein is opstandig oor swak munisipale dienslewering wat voortduur en infrastruktuur wat by die dag verder verval.
Lede van die Mangaung Concerned Community (MCC) het Maandag (07/02) werknemers van die Mangaung-metro in die Bram Fischer-gebou gedreig, en een werknemer is in die voorval beseer. Betogers het glo na die gebou opgeruk in protes teen nepotisme, die onwettige aanstelling van personeel en swak dienslewering.
Met die ouditeur-generaal (OG) se verslag wat op 31 Januarie voor die Mangaung-metro gedien het, het Odwa Duduka van die OG se kantoor onder meer gesê die metro stel doelwitte en begroot daarvoor, maar kan nie agterna sê watter doelwitte bereik is en teen watter koste nie.
In toesprake ten tyde van die vergadering, waarop die dienslewering- en die begrotingsplanne in die kwartaal- en halfjaarverslag ook voorgelê is, het talle raadslede beswaar gemaak teen die swak infrastruktuur in die stad.
Dave McKay, DA-wyksraadslid, het onder meer gesê dat die metro moet ophou om verfraaiingsprogramme te bedryf en liewer op die onderhoud van bestaande infrastruktuur moet fokus. Hy het onder meer ’n beroep op die uitvoerende burgemeester gedoen om op stormwaterdreinering, riolering, die waterverspreidingsnetwerk, vullisverwydering en die onderhoud van teer- en grondpaaie in die metro te konsentreer.
Op Bloemnuusse Facebook-blad het lesers ’n lang lys gegee van die strate en paaie in en om die stad wat in ’n besonder slegte toestand is. Plattelanders het daarop gesê dat mense gerus kan gaan kyk hoe swak die strate in hul dorpe is.
In die metro is dit veral in hoewegebiede dat grondpaaie wat baie lanklaas geskraap is ná ’n bui reën onder modderpoele verdwyn en plek-plek onbegaanbaar raak.
McKay sê een van die groot probleme in die hoewegebiede is dat stormwaterdreinering uiters swak is en water meestal in die paaie afvloei. Hy sê dit is omdat instandhouding nie gedoen word nie en omdat mense wat aan die infrastruktuur werk, nie die regte beginsels toepas nie.
Hy sê die grondpaaie in Spitskop word nou geskraap, maar die paaie wat geskraap word, word nie vasgetrap nie – so die grond spoel net weer weg wanneer dit reën.
Christo Swart, ’n inwoner van Bainsvlei, sê in Krigelaan ry mense al langs die pad om gate mis te ry.
“Wanneer dit reën, kan ’n mens glad nie sien waar die slaggate is nie. Dié pad se slegte toestand raak nie net inwoners nie, maar almal wat dit as deurgangsroete na Bainsvlei en selfs Kelleysview gebruik.”
Léan Venter het foto’s gestuur van hul pad in Sekretarispan, Bloemdal.
“Die munisipaliteit skraap al die afgelope jaar nie meer die pad nie, en ons sukkel om diens te kry.”
In die stad veroorsaak slaggate oral gevaarlike situasies en skade aan voertuie en bande.
In Collinsweg is die waterlek en gevolglike slaggate wat dit voor die Vodacomgebou veroorsaak het, herstel. Dié stuk pad waar mense van Barnesstraat indraai, is egter nou met diep slaggate besaai.