Maak só seker troeteldiere bly warm in die winter

Die winter is nie net vir mense ‘n uitdaging nie, maar ook vir diere.


Die winter is nie net vir mense ‘n uitdaging nie, maar ook vir diere.

Werner Botha, inspekteur by die Bloemfontein-DBV, gee ’n paar wenke hoe om diere warm en snoesig te hou in die koue aande en dae wat voorlê.

Hy sê hoewel dit die beste vir troeteldiere is om saam met hul eienaars in die huis te bly, is dit nie altyd moontlik nie.

’n Hond wat buite slaap, moet ’n goeie hok met ‘n dak hê.

“Die hok moet van die grond gelig wees met bakstene om die koue te beperk. Die binnekant van die hok kan met ou matte, wat nie die honde se vel irriteer nie, uitgevoer word.”

Botha sê honde moet ‘n sagte plekkie hê om gemaklik te kan rus.

“ ’n Mens kan ook ’n infrarooi-lig aanskaf om honde wat saans koud kry, warm te maak. Dit moet net op ’n veilige afstand geplaas word sodat hulle nie brand nie.

“Ek het twee Jack Russels van my eie wat in die huis slaap, met jassies en – ’n mens kan dit op die elektrisiteitsrekenings sien – met die verwarmer aan,” sê Botha.

Katte het hul eie manier van warm bly, maar ‘n kombers kan ‘n verskil maak. ‘n Kombers bied meestal gemak, maar hou ook hul liggaamshitte binne.

Die hokke van die diere by die DBV is toegebou aan die agterkant met die honde se bedjies wat teen die muur ingerig is en die voorkant is oop sodat die honde bedags in die sonnetjie kan bak. Die honde by die DBV kry drie komberse per hok. Daar is dus ‘n groot behoefte aan komberse, maar ook aan speelgoed en hondekos.

Botha sê dat honde in die winter meer kilojoules verbrand om hul liggaamshitte te behou. Die honde moet dus in die winter meer hondekos kry.

Honde benodig ook menslike interaksie. Hy nooi vrywilligers om Saterdae met die honde te kom stap, of speelgoed te skenk.

“Hierdie interaksies maak die honde gemakliker met mense en dit lei daartoe dat hulle makliker aangeneem word.”

You need to be Logged In to leave a comment.