Sjoes-sjoes maak ons skoene deur die nat gras.
Ons word omring deur digte mis aan die lae hange van die Drakensberg, met net die voetpad wat oor die grashange kronkel wat sigbaar is.
Daar lê ’n pragtige uitsig van die nabygeleë bergpieke oral om ons – maar dit word deur die mis verbloem. Die gereelde bergstappers kla steen en been oor die uitsig. Dis so naby en behoort só mooi te wees . . .
Maar daar is iets rustigs aan die grashange gehul in ’n wit kombers. Die wete dat die standvastige berge net hier neffens ons lê.
Die vorige aand het ons in ’n grot oornag. Die belofte van ’n mooi uitsig heelmiddag deur reën en mis verberg.
Miskien is ’n mooi uitsig ons soms nie beskore nie.
Ons was vroeg in die grot – meestal oor die deurdringende reën en ’n langer pad wat weens ’n sterk vloeiende rivier nie toeganklik was nie. Terwyl ons waarskynlik heelwat tyd sou bestee om die uitsig uit die grot te geniet, was ons op goeie geselskap aangewese.
Ons speel speletjies en kuier totdat die donkerte die plek van die mis inneem. Sit snoesig in ons slaapsakke en gesels te heerlik. Probeer ’n “moordenaar” aankeer wat ons ure lank ontwyk. Maak kos op ons gasstofies en smul.
Die volgende dag teen middagete lig die mis en onthul dit kortstondig lae dele van die berg. Ons bereik ’n bergstroom, gee mekaar hand om deur die helder, koel water te stap. Sit daarna behaaglik en geniet peuselhappies voor die laaste ent na nog ’n grot.
Maar ons pad neem ons weer deur die rivier. En wéér. Seker agt keer deurkruis ons dieselfde rivier.
Later word skoene nie meer uitgetrek nie – jy durf eenvoudig die sterk stroom met jou skoene aan tot die volgende keer dat die rivier oorgesteek word.
Met een van die kere dat ons die water deurkruis, beland my stapstok in die rivier. Ek beur deur die digte bosse en kyk of ek nie ’n reddingspoging kan uitvoer nie, maar dis vergeefs.
My Pathfinder-stok het self ’n eie pad gevind – berg-af.
Laatmiddag, ná ’n swemsessie in die Marble Baths se glashelder water, kry ons die eerste keer in dae ’n blik op die hoë pieke.
Dit wat die heeltyd daar was, maar wat ons nie kon sien nie.
Soms moet ’n mens eenvoudig daarmee vrede maak dat ’n mens nie die hele prentjie van die lewe kan sien nie; moet ’n mens moeilike voetpaaie volg, mekaar deur die strominge van die lewe help, soms opofferings maak wanneer iets waarop ’n mens staatgemaak het deur die lewe weggevoer word. Soms hard val – en weer opstaan.
’n Mens moet eenvoudig glo en weet ons sal die een of ander tyd die groter prentjie sien.
Jou harde werk sal wel beloon word. Jy sal kan terugkyk met genoegdoening en weet – dit was nie verniet nie.
Mag jy in 2023 omvou word met rustigheid soos ’n miskombers.
Hanteer een dag op ’n slag, een probleem op ’n slag, en maak tyd om asem te skep en die uitsig te geniet wanneer dit daar is.