Lamiez Holworthy is een van die sangers wat optree in die vertoning Divas op 7 Oktober.Foto: Argief


Die Mangaung African Culture Festival (MACUFE) van 2 tot 9 Oktober gaan voort ondanks die uitspraak van die Bloemfonteinse hooggeregshof wat voorbehou is in ’n saak oor die tendertoekenning.

Die departement van sport, kuns, kultuur en rekreasie het die bod aan C Squared toegeken.

DS Consortium wat ook om die aanbieding van die fees getender het, se direkteur Mosa Likobo beweer onregmatighede met die toekenning van die tender om die fees aan te bied.

Die saak is Maandag (26/09) in die hof aangehoor en regter Phillip Loubser het argumente van die departement en C Squared aangehoor en besluit uitspraak word voorbehou.

Tankiso Zola, woordvoerder van die departement, het Donderdag (29/09) in ’n verklaring gesê die fees gaan voort.

“Die departement het kennis geneem van die hofverrigtinge en respekteer die uitspraak wat voorbehou is.”

Hy sê die departement verwelkom die reg van enige lid van die publiek of entiteit wat regsaksie begin om hul regte soos in die grondwet vervat is, te beskerm.

Zola sê die departement het die hofaansoek teengestaan omdat hy glo die tenderproses was regverdig en deursigtig.

Al die verrigtinge vind plaas op die terrein by Old Greys in Bloemfontein.

Kaartjies vir die vertonings wat deel van Macufe vorm, is op Computicket beskikbaar.

You need to be Logged In to leave a comment.