Die DA sê dié party is die enigste opsie om die verdere verwoesting van die Mangaung-metro te keer.
So het afgevaardigdes Woensdag op ’n DA-nuuskonferensie gesê – op dieselfde dag waarop die metro se speaker, Stefani Lockman-Naidoo as ANC-raadslid en speaker van die metro bedank het.
Haar bedanking kom nadat die provinsiale ANC reeds in Februarie besluit het dat sy, die burgemeester en die onderburgemeester vervang moet word.
Mxolisi Siyonzana het ook intussen as burgemeester uit die raad bedank.
Johan Pretorius, DA-koukusleier in die metro, het op die nuuskonferensie gesê Mangaung is leierloos.
“Ons hoop dit neem nie weer 12 maande voordat ’n nuwe burgemeester gekies word nie,” het Pretorius op die vergadering gesê.
“Sedert 2016 word Mangaung geteister deur uitermatige tariefverhogings, terwyl basiese dienslewering jaar ná jaar agteruitgaan. Dit is die gevolg van die ANC se beleid van kaderontplooiing van mense wat geen idee het van plaaslike regering in sleutelrolle soos die burgemeester en stadsbestuurder nie.”
Hy sê die DA neem kennis van Lockman-Naidoo se bedanking en van poste wat net in waarnemende hoedanigheid gevul word soos die waarnemende burgemeester en munisipale bestuurder. “Daar is nou geen hoofsweep en geen burgermeesterskomitee nie.”
Pretorius sê die ANC onder aanvoering van pres. Cyril Ramaphosa, het geen behoefte om die Mangaung-metro te herstel nie soos wat die voorstel vir kandidaat vir die uitvoerende burgemeester, Gregory Nthatsi, bewys.
Tydens die raadsvergadering op 6 Maart het die ANC die raad verras toe dié party prof. Tshoeute Matutle as waarnemende stadsbestuurder wou aanstel.
Pretorius sê indien Nthatsi en Matutle aangestel word, sal die agteruitgang van die metro voortduur. Dit sluit in die erge agterstand met vullisverwydering, riool wat oral in die stad vloei met net een hidro-blaasmasjien om groot blokkasies in die stad reg te maak, voordurende watertekorte, die groot tekort aan personeel in die metro, die stormwaterstelsel wat uitmekaar val en vele meer.
Een van die mosies wat die DA reeds ingedien het om bestuur van die metro te verbeter, sluit in die aanstelling van ’n munisipale ombudsman. Die mosie is in Mei 2018 deur die raad goedgekeur. So ’n ombudsman sou die mag hê om klagtes deur die publiek te ondersoek en aanbevelings te maak. Die aanstelling bly egter sloer.
David Masoeu, die DA se koukus-voorsitter, sê die DA in die metro het ’n plan as hy aan bestuur van die metro kom.
“Die belangrikste is dat die magshonger ANC moet plek maak vir die opposisie voordat die metro heeltemal ineenstort. Hy sê ANC-raadslede wat nie tevrede is met die posisie waarin die metro hom bevind nie, moet saam met die ander opposisiepartye vereniging en hul steun aan die DA se kandidaat vir uitvoerende burgemeester gee,”
Die DA wil nog nie bekend maak wie sy kandidaat is nie.
Werner Horn, DA-parlementslid, het tydens die nuuskonferensie gesê die DA wil sien dat professionele administrateurs in die metro aangestel word.
“Vir die DA is dit belangrik dat ’n stadsbestuurder aangestel word wat oor die nodige vaardighede beskik en wat geen politieke affiliasies het nie,” het hy op die nuuskonferensie gesê.