’n Bloemfonteinse man wat ’n 13-jarige seun op Kersdag by die Maselspoort-vakansieoord aan die hare gegryp en getrek het, is Maandag (22/05) in die streekhof met R4 000 beboet of ’n jaar tronkstraf opgelê.
Jan van der Westhuizen (48) is ook tot nog drie jaar tronkstraf gevonnis, wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is op voorwaarde dat hy nie in dié tyd aan aanranding skuldig bevind word nie.
Van der Westhuizen, een van drie mans wat aangekla is weens ’n voorval op Kersdag verlede jaar by die oord, het Maandag voor streeklanddros Rasheed Matthews skuld op ’n aanklag van aanranding beken.
Ná gesprekke tussen die staat, die verdediging en die familie van die 13-jarige slagoffer, het Van der Westhuizen die slagoffer Maandag onvoorwaardelik om verskoning gevra. Die seun se familie het Van der Westhuizen se verskoning aanvaar en gesê hulle hoop dit kom uit ’n opregte plek. Daarna het Van der Westhuizen en die seun se voog in die hof hand geskud.
Hy het benadruk dat sy optrede nie rasverwant was nie en het ontken dat dit ’n rassevoorval was.
In sy pleitverduideliking, wat in die hof voorgelees is, sê hy hy het geen regverdiging oor waarom hy die seun aan die hare gegryp, getrek en aan hom gesê het: “Jy moet nou ophou met jou k*k,” voordat hy die seun gelos het nie.
Hy sê hy moes nie die kwessie op ’n gewelddadige wyse opgelos het nie en is bewus daarvan dat sy gedrag onwettig, opsetlik en strafbaar was.
“As ’n volwasse man en pa van drie tieners moes ek van beter geweet het en anders opgetree het. Ek het regtig berou vir my dade en is bewus van die seer wat dit aan die seun en sy familie gedoen het. Ek vra groot om verskoning.”
Luidens sy pleitverduideliking kampeer hy die afgelope 30 jaar by Maselspoort en hy het op Kersdag, die dag van die voorval, omstreeks 13:00 geswem toe drie seuns by die swembad opdaag. Hy het aangeneem die seuns was dagbesoekers by die oord en dat hulle daarom nie die swembad kon gebruik wat vir die inwoners van die woonwapark bedoel is nie.
Van der Westhuizen het aan die seuns gesê hulle mag nie daar swem nie. Die seuns het aanhou swem, maar het later middagete gaan eet. Van der Westhuizen is ná ete terug na die swembad. Die seuns het saam met hul ouers by die swembad opgedaag, waarna ’n rusie uitgebreek het.
Hy het die hek na die swembad toegemaak en sy vrou het die bestuur gaan roep. Hy sê die seuns het oor die heining gespring, waarna ’n bakleiery ontstaan het. Hy het die een seun aan die hare gegryp.
Sy medebeskuldigdes, Kobus Klaassen en Johan Nell (33), sal in Julie weer in die hof verskyn.