Uit duisende mense wat ’n donasie vir Engo se Projek van Hoop gemaak het, het Gerhard Vosloo van Welkom Saterdag (12/11) ’n splinternuwe Suzuki S-Presso gewen.
Gerhard was een van die finaliste wat op ’n musiekgelligheid genaamd Arco Shifting Gears by Kundendienst in Bloemfontein deelgeneem het aan die finale trekking vir die motor.
Arco Musica met Cézanne Yzelle en Arend Brink jr. het ’n unieke vertoning met motors as tema tussen spoggerige motors, motorfietse en veteraanmotors in Kundendienst se werkwinkel in Harveystraat aangebied.
Aan die einde van die vertoning het die splinternuwe Suzuki S-Presso 1.0 GL Plus S Edition ter waarde van R170 900 ingery gekom. Suzuki het besluit om vir die wenner ’n opgegradeerde S-Presso te skenk.
Die ander finaliste wat die geselligheid bygewoon het was Beatrice Nortman van Parys, Marie Maree van Bloemfontein en William Correia van Welkom. Hulle het eers probeer om met die sleutels wat hulle getrek het, die S-Presso oop te sluit.
Dit was egter die sleutel van Gerhard wat die ligte laat flikker het om aan te kondig dat hy die gelukkige wenner is.
Die trekking en aankondiging van die wenner is deur Carolien Koen van Evolve Auditors oorsien.
Gerhard het op die geleentheid gesê dit het nie vir hom soseer daaroor gegaan om die motor te wen nie, maar om ’n bydrae aan Engo te maak.
Altesaam 18 892 skenkings is vir die projek ontvang. Geld uit die skenkings gaan vir Engo se subprogramme oor die Vrystaat heen aangewend word. Engo se personeel het gewoeker met die insameling van skenkings en Annatjie Weideman is aangewys as die personeellid wat die meeste skenkings ingevorder het.
- Die drie top-subprogramme wat die meeste donasies ingevorder het, was: Welkom-jeugsorgsentrum;) Maanblom-jeugsorgsentum; en) Sasolburg-jeugsorgsentrum.
Engo se Projek van Hoop is in samewerking met Sentraal24, NTT Suzuki Bloemfontein en Radio Rosestad aangebied.
Die vertoning was vir drie betrokke instansies ’n besondere geleentheid. Kundedienst vier vanjaar sy tiende verjaardag, Arco Musica is vanjaar 30 jaar oud en Engo vier vanjaar sy 120ste bestaansjaar.
Alda Fourie wat by Engo se bemarkings-afdeling betrokke is, sê die geleentheid was beslis ’n hoogtepunt in Engo se vieringe.
“Engo bedien meer as 200 000 mense in sy verskillende subprogramme. Die geld gaan ’n groot verskil vir baie mense maak.”
Arco Shifting Gears is spesifiek ten bate van Engo se 33 jeugsorgsentrums oor die Vrystaat heen aangebied. Daar word 881 kinders in dié sentrums versorg.