Hy sien die ongeluk as ’n geleentheid om met die lewe aan te gaan.
Só sê Dewald Möller, ’n Bloemfonteiner wat twee jaar gelede sy linkerhand, voorarm en twee van die vingers aan sy regterhand in ’n ongeluk verloor het.
Op 11 Junie 2020 het 11 000 volts deur hom gevloei terwyl hy werk aan veiligheidskameras in Carletonville gedoen het.
’n Deel van sy skedel het ernstige skade opgedoen, en hy het ’n deel van sy regterskouer verloor.
Ná die ongeluk was hy altesaam 99 dae lank in die hospitaal, waarvan 58 in ’n waakeenheid deurgebring is.
Dewald was in Desember verlede jaar weer in die nuus toe diewe sy skootrekenaar en kunsarm gesteel het.
Sy groot droom is egter om eendag ’n bioniese hand te hê.
Hy voel nog sy hand en vingers wat nie meer daar is nie.
“Dit is egter vir my ’n goeie ding. Ek probeer dié senuwees aktief hou vir die dag dat ek ’n bioniese hand kry,” sê Dewald.
Juanè Raats, sy arbeidsterapeut, is vol lof vir Dewald se uithouvermoë.
“Hy doen so goed met wat hy het.”
Sy en van haar kollegas het besluit om ’n geldinsameling te hou om geld vir dié droomhand in te samel.
Dewald ontvang op 30 Mei sy 32ste operasie ná die ongeluk. ’n Deel van sy kopvel, wat die afgelope maand gerek is, sal nou gebruik word om die wond aan sy skedel te bedek.
Intussen gaan hy voort met sy werk en gebruik hy sy kunshand met verstommende behendigheid.
“Die hand is met ’n harnas aan my lyf vas. Binne dae vandat ek my eerste kunshand gekry het, kon ek muntstukke optel.”
Hy lees wyd oor beskikbare toerusting en droom van ’n bioniese hand wat baie gemakliker gaan sit as die een met die harnas.
“Deur die Here se genade is ek redelik onafhanklik. Ek wil nie ’n las op enigiemand wees nie.”
- Juanè en van haar vriende bied op Saterdag 28 Mei ’n geselligheid by Pepermossie in Bainsvlei aan om geld vir Dewald in te samel. Dit begin om 17:30 vir 18:00 en sluit ’n musiekvertoning en ete in. Artikels sal ook opgeveil word. Kaartjies kos R250 en kan bekom word deur 067-397-2076 te skakel.