Die name van die drie kandidate vir die pos van die Mangaung-metro se uitvoerende burgemeester is deur die uitvoerende streekskomitee van die ANC deurgestuur om goedgekeur te word deur die nasionale ANC-komitee.
Dit is deel van die proses om Mxolisi Siyonzana in die amp van burgemeester te vervang.
Jabu Mbabula, woordvoerder van die ANC in die Vrystaat het bevestig dat die metro se speaker en adjunk-burgemeester ook vervang gaan word.
Opposisiepartye sê faksiegevegte binne die ANC in die metro lei tot onaanvaarbare verontagsaming van wetgewing.
VF Plus-raadslid Braam Vorster sê die ANC fokus so op binne-politiek, dat hulle nie by die behoorlike administrasie van die metro hou nie en so belangrike munisipale finansiële bestuurswetgewing (MFMA) blatant verontagsaam.
“Die MFMA bepaal dat die burgemeester van ’n munisipaliteit die jaarverslag, insluitend die oudituitkomste van die vorige boekjaar, voor 31 Januarie van die daaropvolgende jaar aan die raad moet voorlê.”
Die vergadering wat al verlede week moes plaasvind, is nou eers vir volgende week geskeduleer. ’n Spesiale raadsvergadering is teen Dinsdagmiddag (07/02) aan raadslede uitgestuur om ’n vergadering vir Maandag (13/02) 10:00 te belê.
“Mxolisi Siyonzana, burgemeester van die metro, het versuim om teen 31 Januarie die verslag aan die raad voor te lê. Hy moes die jaarverslag voor 31 Januarie ter tafel gelê het, en moes so spoedig moontlik skriftelike redes vir sy versuim aan die raad moet verskaf het.”
Vorster het teen Dinsdag gesê dit het nie gebeur nie.
Siyonzana veg om politieke oorlewing weens faksiegevegte binne die ANC en laat die munisipale bestuur waarvoor hy verantwoordelik is in die proses agterweë.
Die nuut aangestelde woordvoerder van die ANC, Jabu Mbalula, sê die ANC het nog nie besluit wie Siyonzana gaan vervang nie.
Die DA se mosie dat Siyonzana vervang moet word, is ook nog nie in die raad aangehoor nie.
DA-raadslid en ondervoorsitter van die metro se DA-koukos, Dirk Kotzé, sê die nasionale intervensiespan wat deur die minister van koöperatiewe samewerking en tradisionele sake (Cogta), dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, aangestel is, was ’n algehele mislukking.
“Die intervensiespan is in April 2022 aangestel met die belofte van ’n forensiese oudit en verbetering van munisipale dienslewering.”
Kotzé sé in September wys verslae dat regeringsdepartemente die munisipaliteit R2,5 miljoen vir dienste, R1,5 miljoen vir openbare werke, skole en ontwikkelingsprogramme en R946 miljoen vir Centlec geskuld het. Laasgenoemde sluit krag vir geboue van openbare werke en skole in.
“Inwoners wat agter raak met hul munisipale skuld, se krag word binne die eerste maand afgesny terwyl die waarnemende munisipale bestuurder net by voornemens bly om afsprake met regeringsdepartemente te maak oor uitstaande skuld.”
Vorster sê die begrotingsassesseringsverslag vir die halfjaar het ook nog nie voor die raad gedien nie. Volgens die MFMA moes hierdie verslag ook voor 31 Januarie gedien het.
“Indien ’n aanpassing op die halfjaarbegroting gemaak moet word – en dit is waarskynlik nodig – moet dit teen 28 Februarie deur die raad goedgekeur word. Dit los baie min tyd vir aanpassings om behoorlik en weldeurdag gemaak te word voordat dit weer voor die raad dien,” sê Vorster.
Hy sê Mangaung is waarskynlik die metro in die land wat die swakste bestuur word. “Nie eens ’n nasionale ingrypingspan kon hond haaraf maak van die gemors waarin die munisipaliteit se finansies en dienslewering verkeer nie.”