Krisisbestuursentrum in Bloemfontein: ‘n Teleurstellende Situasie

Die Mangaung metro se krisisbestuursentrum is nie so effektief soos beweer nie, met net 30% van die kameras wat werk. DA-raadslede is teleurgesteld oor die tekort aan funksioneerders en die afwesigheid van die polisie. Hulle pleit vir verbeterde onderhoud, digitalisering en ‘n 24-uur noodnommer om die veiligheid van inwoners te verbeter.


Die stad se krisisbestuursentrum is nie so gereed soos wat onlangs beweer is nie.

Hoewel die Mangaung-metro se burgermeesterskomiteelid vir openbare veiligheid en vervoer, Sibongile Tsoleli, op 13 Maart aangekondig het dat ten minste 70% van die kringtelevisiekameras in die stad ná drie jaar weer werk, was dit glad nie meer die geval met die DA se besoek aan dié sentrum Dinsdag 8 April nie.

Twee DA-raadslede Dirk Kotzé en Tjaart van der Walt het Dinsdag 9 April weer Mangaung se krisisbestuursentrum besoek. Foto: Lientjie Mentz

DA-raadslede Dirk Kotzé en Tjaart van der Walt het ná klagte van die publiek dat die sentrum nie werk nie, self ‘n besoek gebring.

Van der Walt het ná die besoek gesê hy is dankbaar dat van die kameras wel werk, maar hy is teleurgesteld met die beperkte hoeveelheid kameras en monitors wat werk, nader aan sowat 30% van die meer as 100 kameras wat in Bloemfontein se sakekern en ander openbare gedeeltes opgerig is.

Hy het gesê diefstal en vandalisme word gegee as van die redes waarom baie van die kameras en monitors nie werk nie “Daar word egter nie genoeg gedoen om pro-aktief die sentrum en toerusting in stand te hou nie.”

Kotzé het gesê hy is baie teleurgesteld dat die veiligheid van inwoners en die bekamping van misdaad in Mangaung nie ‘n prioriteit is nie.

“Dit is skrikwekkend om te sien dat nie alle kameras gewerk het nie, wat die metro se oë in die lug is om misdaad te bekamp nie.

“Indien kringtelevisiekameras nie werk nie, is daar ‘n blinde kol wat misdadigers kan uitbuit om ‘n misdaad te pleeg en daarom moet kameras dieselfde dag nog herstel word. Ons kan nie bekostig dat dit vir dae buite werking is nie.”

Hy sê die ander leemte by die sentrum is die afwesigheid van die polisie. “Hoe kan misdaad bekamp word as die polisie nie direk gebruik maak van hierdie gerief wat gevaarpunte in die stad monitor nie?”

Kotzé sê die sentrum het plek vir 22 werknemers om die kameras te monitor, maar net drie amptenare was teenwoordig met hul besoek. “Die afdelingshoof en burgermeesterskomiteelid moet begin planne maak om die leë stoele te vul. Misdaad in die stad moet dringend bekamp word anders gaan die ekonomie nie herstel nie.”

Van der Walt sê operasionele sentrums in plekke soos George en Kaapstad het die digitale toerusting om kringtelevisiekameras dop te hou en met die toepaslike owerhede te koördineer. “Ons kort beslis weer die betrokkenheid van die Suid-Afrikaanse polisiediens om van die sentrum af voorvalle van misdaad te sien en vinnig daarop te kan reageer.”

Hy sê daar kort dringend ‘n 24-uur noodnommer by die perseel wat toegangklik is vir die publiek wat noodsituasies wil aanmeld en deur die metro se wetstoepassingsafdeling gemonitor word.

Van der Walt sê hy besef dat mannekrag en hulpbronne in die metro ‘n uitdaging is. “Ek stel voor dat in stede daarvan om vakante poste te vul, ‘n proses van digitalisering gevolg word sodat die werknemers wat wel daar is, meer produktief aangewend kan word.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.