Die Mangaung-metro het die afgelope week begin met onderhoudprogramme van reservoirs in die stad en aandag word ook nou gegee aan die sinkgat by die Hoërskool Sentraal.
Die program het verlede week begin met die skoonmaak en regmaak van reservoirs oor die metro heen.
Volgens Qondile Khedama, woordvoerder van die metro, is dit deel van ’n operasionele program met die doel om toe te sien dat die watervoorsiening aan die metro van hoë gehalte is en voldoen aan standaarde vir menslike gebruik.
Van Woensdag (03/05) tot Vrydag is ’n deel van die pypleiding van De Hoek tot by Uitkyk verwyder en vervang. Dele van die metro van Dewetsdorp en Wepener tot dele van die suide van Bloemfontein, Langenhovenpark tot Erlichpark is hierdeur geraak.
Dinsdag (09/05) is daar begin met die onderhoud van reservoirs in die noorde.
Onderhoud is gedoen aan die Dan Pienaar-toring waar ’n klep gereeld moeilikheid gee.
Woensdag en Donderdag gaan die ou Arboretum-reservoir se invloei afgesny word om dit skoon te maak en weer te laat vol loop.
Inwoners, sake-ondernemings en verbruikers in die dele wat deur die onderhoudwerk geraak word, word gevra om die nodige reëlings te tref om genoeg kook-, drink en waswater vir die tydperk te hê.
Intussen sê Gerda Spies van die Hoërskool Sentraal munisipale kontrakteurs het die naweek voorbereidings getref om aan die groot sinkgat op die skool se rugbyveld te werk. Die sinkgat het ontstaan toe die stormwaterpyp wat onder die skoolgronde deurloop, ingeval het.