Kommunikasie vanaf die Mangaung-metro het inwoners vanoggend 3 Februarie ingelig dat vullisverwydering nie gaan plaasvind nie weens onvoorsiene omstandighede, maar intussen het dié boodskap verander.
Inwoners weet nou glad nie meer of hulle volgens die skedule vullissakke moes uitsit of nie.
BloemNuus het inligting gekry dat die vullis sedert Dinsdag verlede week nie verwyder is nie weens diesel wat nie by die metro se depot afgelewer is nie.
Volgens inligting wat DA-raadslid Tjaart van der Walt van amptenare gekry het, het die metro wel vanoggend diesel ontvang. Die 33 000 liter wat die metro vir voertuie ontvang het, behoort genoeg te wees vir 12 dae.
Valerie de Kock, VF Plus-raadslid sê dit blyk nou die metro is nou afhanklik van noodvoorraad wat by die brandweer verkry word.
“Hierdie desperaatheid stel nie net lewens en bates in gevaar nie, maar wys ook duidelik op die metro se mislukking om kritieke dienste behoorlik te bestuur.”
De Kock sê dié brandstof is vir noodsituasies en brande bedoel en kan nie gebruik word om basiese diens soos vullisverwydering aan die gang te hou nie. “Dit is die direkte gevolg van swak beplanning en wanbestuur van kontrakte.”
Die finansiële hoof van die Mangaung-metro, Zuzu Thekisho, het onlangs tydens ‘n vergadering met die munisipaliteit se departementshoofde bevestig dat die metro ‘n kontrak met ‘n nuwe dieselverskaffer gesluit het wat voorafbetaling vereis, iets wat nie deel was van die oorspronklike kontrakvoorwaardes nie.
“Hierdie situasie werp ernstige vrae oor die metro se voorsieningskettingprosesse. Dit is duidelik dat die verskaffer nie die vermoë het om sy verpligtinge na te kom nie,” sê sy.
Sekere dele van die stad se vullisverwydering wat sedert Dinsdag verlede week nie gedoen is nie, sou blykbaar vandag opgelaai word. Dit sluit die noorde van Fichardtpark, Lourierpark, Universitas-Wes, Wilgehof en Raceway Park in.
Dit blyk die vorige dieselverskaffer se kontrak is opgeskort en dat ’n nuwe diensverskaffer aangestel is.
Van der Walt sê die metro het laat weet dat hulle vandag gaan fokus op die agterstand voordat die normale vullisverwyderingskedule hervat sal word. Vier vullisverwyderingsvoertuie is reeds na woonbuurte soos Universitas waar vullis nie die afgelope week verwyder kon word nie.
Die gewysigde skedule behoort later vandag beskikbaar te wees.
BloemNuus het navraag by Qondile Khedama en amptenare van die Mangaung-metro gedoen oor waarom die diesel nie betyds bestel of afgelewer is nie en watter maatreëls getref gaan word om soortgelyke voorvalle te verhoed om dienslewering te verbeter. Daar is nog geen terugvoer verskaf nie.