Mangaung-metro lewer vrot verslae selfs ná ingryping

Die nasionale ingrypingspan is ná 14 maande by die Mangaung-metro steeds in die eerste van drie fases om toesig te hou dat die finansiële regrukplan uitgevoer word.


Die nasionale ingrypingspan is 14 maande ná sy aankoms by die Mangaung-metro steeds in die eerste van drie fases om toesig te hou dat die finansiële regrukplan uitgevoer word.

Boonop het Gugu Malaza, nasionale kabinetsverteenwoordiger in die Mangaung-metro, op Woensdag 7 Junie ten tyde van ’n spesiale raadsvergadering die eerste keer terugvoering aan die raadslede gegee – iets wat sy veronderstel is om maandeliks te doen.

Die nasionale ingrypingspan is sedert April 2022 hier om toesig te hou dat die metro se finansiële herstelplan uitgevoer word.

In haar verslag sê Malaza die eerste fase van die plan is gefokus op die kontantvloei van die munisipaliteit. Fase twee fokus op die stabiliteit van die finansiële bestuur en die derde is die vestiging van volhoubaarheid met langtermyn-bestuursplanne.

Volgens haar verslag vaar die metro besonder sleg wanneer dit kom by verskillende afdelings van besteding, sowel as invordering, as dit vergelyk word met nasionale standaarde.

Een daarvan is herstelwerk en die instandhouding van infrastruktuur wat in April 0,32% was en daartoe lei dat infrastruktuur verval. Dit vergelyk ook sleg met die nasionale norm van 8%.

Daar is ’n effense verbetering in die metro se skuldinvordering, wat vir April 78,5% is teenoor die nasionale gemiddeld van 95%.

Sy sê sy glo dit kan verbeter na 80%.

Een van die groot kwessies wat bly opduik in die metro, is groot waterverliese. Volgens Malaza se verslag het dit in April op 49% gestaan.

Malaza het gesê ondersoek moet ingestel word oor waarom dit so is.

DA-raadslid Tjaart van der Walt sê dit is nie nodig om ’n studie te doen nie.

“Kyk hoe loop die water in elke straat in elke woonbuurt. Dit word by die metro se oproepsentrum, die burgemeester, die burgemeesterslid, die stadsbestuurder, die bestuurder, die departementshoof en wyd aangemeld.”

Hy sê voorbeelde van waar groot hoeveelhede water vloei, is in Paul Krugerlaan en in Jock Meiringstraat in Parkwes, sowel as Horwitzstraat in Universitas.

“Ons het ook al telkens die lekplek in die veld by Groenewoudstraat in Universitasrif oorkant die Bybelhuis aangemeld. Enige van die raadslede kan honderde plekke uitwys. Al wat nodig is, is voertuie en spanne met toerusting en kontrakteurs om herstelwerk te doen.”

Soos dikwels in die verlede gesê is, bestee die metro baie min van die nasionale toelaag.

Volgens Malaza se verslag het die metro nog net 33% van die kapitaalbegroting bestee, terwyl die nasionale gemiddeld tussen 95% en 100% is.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.