Die Mangaung-metro het spesialis-poste geadverteer terwyl die dieretuin steeds gesluit is. FOTO: Lientjie Mentz

Die Mangaung-metro, wat in 2020 die Bloemfontein-dieretuin weens wanbestuur moes sluit, is nou weer in die spervuur.
Dit terwyl ‘n uitspraak van die Vrystaatse Hooggeregshof nog van krag is dat die dieretuin nie kan oopmaak voordat aan streng voorwaardes voldoen word nie.
Dit sluit in dat toepaslike permitte van die departement van ekonomiese ontwikkeling en toerisme bekom moet word en dat daar aan regulasies vir die beskerming van spesies voldoen moet word.
DA-raadslid Thomas Ferreira het dringende vrae aan die uitvoerende burgemeester, Gregory Nthatisi, en die stadsbestuurder, Sello More, gestuur oor die besluit om interne poste vir die dieretuin te adverteer terwyl dié instansie nog gesluit is.

Die Mangaung-metro se burgemeester Gregory Nthatisi op die stadsrede waarop hy gesê het dat dit belangrik is dat Bloemfontien weer ‘n dieretuin het. FOTO: LIentjie Mentz


Ferreira sê sover hy kan agterkom, is 28 gespesialiseerde poste onlangs geadverteer.
“Die metro se besluit om personeel aan te stel vir ‘n gerief wat nie in
werking is nie, is niks anders nie as ‘n baantjies-vir-boeties-skema,” sê Ferreira.
“Totdat die dieretuin op internasionale peil gebring word, en toepaslike dierepermitte verkry is en die gerief amptelik as ‘n uitstalruimte geregistreer word, is enige ander uitgawes onreëlmatig.”
Ferreira sê die metro het reeds sowat R6 miljoen vir die dieretuin begroot.
“Dit kom nadat gespesialiseerde poste geadverteer is wat nie nou bestaan nie. Die DA vind dit kommerwekkend, veral in die lig van die wetlike aspekte wat nagekom moet word voordat die dieretuin weer geopen kan word.”
In sy begrotingsrede in Mei het Nthatisi gesê die heropening en herontwikkeling van die dieretuin gaan oor drie jaar gebeur, teen R29 miljoen. Hy het gesê die dieretuin verteenwoordig ‘n noodsaaklike punt vir besoekers aan Bloemfontein en moet as opvoedkundige bestemming dien.
“Daarom is dit belangrik om die dieretuin te heropen en tot sy voormalige glorie te herstel,” was sy woorde.
Die besluit om die dieretuin te heropen, kom ná ‘n raadsbesluit om nie meer die dieretuin na Kwaggafontein te skuif nie.

You need to be Logged In to leave a comment.