’n Argieffoto van vullis wat opgehoop het toe daar vir weke geen vullisverwydering in Bayswater was nie.Foto: Lientjie Mentz


Die Mangaung-metro moet teen 12 April sê of hy meer as 600 inwoners gaan kwytskel van die tarief vir vullisverwydering.

Dié inwoners maak reeds gebruik van ander vullisverwyderingsdienste, maar moet steeds hierdie tarief aan die metro betaal.

So sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein.

Hy sê dié organisasie het in November verlede jaar ’n memorandum aan die Mangaung-metro oorhandig om te versoek dat die metro onmiddellik moet optree om die dienste te lewer of andersins die kwytskelding moet toestaan.

In Februarie het die metro aangedui dat hy met die betrokke inwoners sal korrespondeer oor die kwytskelding. Dit het egter aan die lig gekom dat die metro verskeie goedkeurings, bevestigings en inligting vereis het ten einde die kwytskelding te finaliseer.

AfriForum het by monde van sy regspan gesê dat dié versoeke heeltemal irrelevant is tot die aansoek.

In sy skrywe herinner AfriForum die metro dat hy ’n grondwetlike verpligting het teenoor inwoners om dienste te lewer.

Voorts moet die munisipaliteit gelyk gee dat indien dié dienste nie volhoubaar gelewer kan word nie, inwoners daarop geregtig is om van privaat-vullisverwyderingsdienste gebruik te maak.

Groenewald moedig steeds die gemeenskap van Bloemfontein aan om hierdie saak te ondersteun deur hul aansoeke om kwytskelding by die metro in te dien.

“AfriForum lewer reeds sedert 2020 vullisverwyderingsdienste in Bloemfontein, juis weens die metro se onbetroubare dienslewering. Onbetroubare dienslewering, veral ten opsigte van vullisverwydering, hou gesondheid- en veiligheidsrisiko’s vir die gemeenskap in. Ons kan nie betaal vir dienste wat nie gelewer word nie,” sê Groenewald.

You need to be Logged In to leave a comment.