Mangaung-metro stel beurtwater in om waterstelsel te stabiliseer

Die Mangaung-metro gaan vir die volgende paar dae watertoevoer saans van 18:30 tot 05:00 afskakel om toe te sien dat die stad se reservoirs vol loop en die waterstelsel stabiliseer.


Die Mangaung-metro gaan vir die volgende paar dae watertoevoer saans van 18:30 tot 05:00 afskakel om toe te sien dat die stad se reservoirs vol loop en die waterstelsel stabiliseer.

Die woordvoerder van die metro, Qondile Khedama sê danksy die proses wat die afgelope paar dae toegepas is, het die Brandkop-reservoir se vlakke aansienlik verbeter.

’n Afvaardiging van die DA het gister die watersuiweringsaanleg by Maselspoort besoek. Hier kyk Jan-Hendrik Cronje na ’n gedeelte van die aanleg buite die stad.Foto: Verskaf

Paul Kotzé, DA-wyksraadslid vir Pellissier, sê met die ingryping wat plaasgevind het, het die Brandkop-reservoir reeds gestyg van 10% na 50%.

“Die beurtwater is ’n gesamentlike poging van die Mangaung-metro en Vaal Central Water om die stad se waterstelsel te stabiliseer,” sê Kotzé.

Hy sê die tekort aan kommunikasie vanaf die Metro wat daarvoor verantwoordelik was, het ’n reuse-uitkring-effek gehad. Veral hoogliggende dele van die stad geraak deur die afskakeling van water saans. Dit sal duur totdat die reservoir-vlakke verbeter.

Kotzé sê inwoners is heeltemal onvoorbereid gevang met die metro se skielike besluit om beurtwater in te stel. “Dit dui om die munisipaliteit se tekort aan beplanning en gebrek aan leierskap.”

Die rantsoenering van water sonder behoorlike kommunikasie, het tot probleme oor die stad heen gelei, sê hy. Reservoirs in die noorde van die stad maak nou staat op water vanaf die suide wat veroorsaak dat die hele stad se watertoevoer ingeperk is.

“Ons gaan vra vir ’n onafhanklike oudit van Mangaung se infrastruktuur en uitgawes met die oog op herstelwerk en opgraderings,” het hy gister in ’n nuusverklaring gesê.

Dit kom nadat ’n afvaardiging van die DA die watersuiweringsaanleg by Maselspoort besoek het. Opgraderings is die afgelope tyd hier onderweg. “Die Maselspoort-aanleg is gebou om 100 megaliter water per dag te lewer, maar lewer die afgelope paar jaar slegs 60 megaliter. Ná die reën verlede week lewer dié aanleg net sowat 40 liter per dag wat nie genoeg is vir die groot deel van die stad wat hieruit water kry nie.”

Kotzé sê hoewel opgraderings nou by Maselspoort- en die Hamilton- pompstasie gedoen word, is dit te min, te laat.

“Omdat die stelsel so onstabiel is, gooi een probleem die hele stelsel omver soos wat nou gebeur het. Hoewel die waterstelsel teen vroeg volgende week behoort te begin stabiliseer, skep die munisipaliteit se weiering om aandag te skenk aan die oorsake van die krises talle uitdagings. Die DA gaan die saak onder die aandag van die provinsiale wetgewer bring om die metro te dwing om verantwoording te doen vir wanbestuur.”

Khedama sê nadat Brandkop begin stabiliseer het, is die fokus nou daarop om die vlakke van die Longridge-reservoir te stabiliseer.

Hy vra dat mense water spaarsamig gebruik. Hy sê watertenks word na seker woonbuurte gestuur om tydelike verligting te bring.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.