Die pad na die suidelike stortingsterrein in Bloemfontein waar vullis dikwels afgelaai word omdat die terrein nie behoorlik bestuur word nie. FOTO: Lientjie Mentz

Die burgerregte-organisasie AfriForum het Maandag 21 Julie ’n finale skrywe aan die Mangaung-metro gerig waarin dringende antwoorde geëis word oor die haglike toestand van die noordelike en suidelike stortingsterreine in Bloemfontein.

Hierdie stap volg nadat AfriForum reeds op 1 Julie ’n formele skrywe aan die munisipale stadsbestuurder, Sello More, gerig het waarin die munisipaliteit 14 dae gegun is om ’n aksieplan voor te lê vir die rehabilitasie van die terreine.

Bloemfontein se suidelikestortingsterrein waar sakgrawers gereeld vullis brand. FOTO: verskaf

Christo Groenewald, distrikskoördineerder vir AfriForum in Bloemfonatein sê tot op hede het AfriForum geen terugvoer van die metro ontvang nie, ondanks die verstryking van die sperdatum.

“Die terreine toon ernstige tekorte aan basiese infrastruktuur, veiligheidsmaatreëls en voldoen nie aan die minimumvereistes soos uiteengesit in nasionale wetgewing en munisipale verordeninge nie,” sê Groenewald.

“Die Mangaung-metro moet besef dat hierdie stortingsterreine wetlik verplig is om aan sekere standaarde te voldoen. Ons kan nie bloot toekyk hoe hierdie geriewe verder verval nie. ’n Weegbrug alleen gaan nie hul probleme oplos nie – daar is verskeie strukturele en bestuursprobleme op die terreine wat reeds lank teen wetgewing indruis,” sê Groenewald.

BloemNuus het op 9 Julie berig dat die metro beoog om van 1 Augustus tariewe vir die storting van 500kg en meer gaan vra.

Groenewald het sê as die metro hierdie tariewe instel, sal die standaard van die strotingsterreine aansienlik moet verbeter en dit sal aan wetgewing moet voldoen. “Daar is wel al begin met ‘n nuwe heining om die suidelike stortingsterrein, maar die metro sal die honderde sakgrawers wat hier bly, moet verwyder. Die veiligheid en diens hier sal baie moet verbeter as mense tariewe moet betaal.”

Groenewald sê AfriForum het in sy finale skrywe aangedui dat die organisasie beoog om die saak na provinsiale en nasionale owerhede te eskaleer indien die metro versuim om betyds en betekenisvol te reageer. Regstappe word ook oorweeg.

“Ons sal voortgaan om druk toe te pas om te verseker dat gemeenskappe nie aan onhigiëniese, gevaarlike en onwettige toestande blootgestel word nie. Die publiek verdien veilige, toeganklike en wettige stortingsgeriewe.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article