Opposisiepartye het beswaar geopper teen die Mangaung-metro wat R7,4 miljoen se bates wil afskryf.
Henry Denner sê die VF Plus het geweier om te stem toe die punt bespreek is op die raadsvergadering wat op Donderdag 28 Augustus gehou is.
Luidens die metro se ouditverslag kon 29 688 roerende bates nie geverifieer word nie.
Hierdie lys sluit onder meer in sowat 2000 skootrekenaars en tafelrekenaars, sowat 5000 stoele, 22 kragopwekkers, 437 gereedskapskiste, 258 bossieslaners, 72 konvensionele grassnyers, 14 ry-grassnyers en vele meer. Laasgenoemde grassnyers kos tot R130 000 een.
“Dit is onaanvaarbaar dat bates van hierdie omvang sommer kan ‘verdwyn’ sonder verantwoording,” sê Denner.
Tumelo Rammile van die DA sê dit beteken dat die metro nie kan sê wat van 45% van sy bates in die 2024/25 finansiële jaar geword het nie.
“Ons kan nie gemeenskappe vra om vir dienste en erfbelasting te betaal en dan nie te kan wys wat van die geld geword het nie. Ons kan nie deursigtigheid preek terwyl grootskaalse verliese van bates in komiteeverslae versteek word nie,” sê Rammile.
Denner sê Artikel 63 van die Munisipale Finansiële Bestuurswet maak dit duidelik dat die munisipale bestuurder, Sello More, verantwoordelik is vir die bestuur en beskerming van munisipale bates.
“Hierdie verslag wys egter dat die afsonderlike afdelings in die munisipaliteit die batebestuursbeleid ignoreer en verkryging, beweging en verlies van bates nie behoorlik dokumenteer nie.
“Die inwoners van Mangaung dra reeds die las van hoër tariewe en swak dienslewering. Deur hierdie afskrywing te aanvaar, word die boodskap gestuur dat miljoene rande se bates net kan verdwyn sonder enige gevolge,” sê Denner.
Hy sê die VF Plus eis dat elke departement ‘n omvattende verslag aan die raad voorlê en dat dissiplinêre stappe geneem word teen amptenare wat versuim om hul pligte na te kom. Hy sê die VF Plus eis van die munisipale bestuurder om ʼn herstelplan voor te lê om toekomstige verliese te voorkom.


