Tydens ‘n raadsvergadering van die Mangaung-metro is ‘n besluit geodgekeur dat ‘n astronomiese R33,6 miljoen betaal word vir sowat 119 ha se landbougrond vir die hervestiging en opgradering van informele nedersettings buite Bloemfontein.
Henry Denner, VF Plus-raadslid sê die raad het op Maandag 30 Junie se raadsvergadering ‘n besluit goedgekeur om gewone landbougrond teen R186 000 per hektaar vir ‘n stuk grond langs die Dewetsdorp-pad te betaal. Volgens hom is dit sowat vyftien keer meer as die markwaarde van dié grond.
“Die VF Plus was die enigste party wat daarteen gestem het,” sê hy. “Nie oor die beginsel van grondverkryging nie, maar oor die buitensporige prys en die dat dié transaksie slegs een privaat verkoper, in ‘n truststruktuur, verryk,” sê Denner.
Hy sê vergelykbare landbougrond in dieselfde omgewing verkoop vir gemiddeld R10 000 per ha en tot R15 000 indien dit ryk landbougrond is.
” Hierdie prys is onrealisties en uiters voordelig vir die verkoper. Mangaung het ‘n ernstige behuisingskrisis. Indien dié ANC-geleide raad werklik oplossings soek, moet hy eerder belastinggeld verstandig aanwend om soveel moontlik mense te help en nie net ‘n enkele verkoper se sak te vul nie.”
Denner sê die VF Plus glo in volhoubare ontwikkeling, maar nie in verkwisting onder die dekmantel van ontwikkeling nie.
“Die party is teen enige besluit wat private gewin bo openbare belang plaas. Hierdie transaksie help nie Mangaung se mense nie, dit beroof hulle.”
Hy sê die VF Plus staan vir deursigtigheid, aanspreeklikheid en die verantwoordelike gebruik van elke sent belastinggeld