Die waarnemende uitvoerende burgemeester van die Mangaung-metro, Gregory Nthatisi.Foto: Lientjie Mentz


Nadat die waarnemende uitvoerende burgemeester Gregory Nthatisi verlede Donderdag (15/06) die begroting vir die Mangaung-metro vir die 2022/’23-geldjaar op ’n raadsvergadering teruggetrek het, is dit op vandag se spesiale raadsvergadering goedgekeur.

Nthatisi het die begroting teruggeroep ná insette van opposisiepartye. Ná ’n multiparty-vergadering Woensdag het partye soos die EFF te kenne gegee dat hulle wel vandag vir die begroting sou stem “omdat die burgemeester vir die mense grond beloof.”

Die DA en die VF Plus het teen die begroting gestem.

Dulandi Leech, woordvoerder vir die DA oor finansies, het gesê dat die begroting wat voorgelê is, presies dieselfde is as die een van die vorige week.

“Die EFF en die ANC het gisteraand ’n ooreenkoms aangegaan. Dit is eenvoudig goedkoop politiekery. Hierdie soort ooreenkomste wat agter die skerms gedoen word, is net vir eie gewin.”

Verlede jaar moes die raad drie keer stem om die begroting goed te keur omdat opposisiepartye teen die begroting bly stem het.

Met die goedkeuring van die begroting vandag, kan inwoners hulle regmaak vir stewige tariefverhogings wat op 1 Julie in werking tree.

Dit nieteenstaande dienste wat vir weke lank nie gelewer word nie.

Elektrisiteitstariewe word ingevolge goedkeuring deur die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) met 15.1% verhoog.

Die gemiddelde eiendomstariewe verhoog met 5,3% ondanks die dubbele tariefverhoging wat eiendomseienaars verlede jaar met die nuwe evaluasierol moes opdok.

Tariewe vir riool word met 5,3% verhoog vir residensiële verbruikers en 5.8% vir nie-residensiële verbruikers.

Vir talle inwoners sal dit ’n bitter pil wees om te sluk, veral dié wat gereeld dae lank opgeskeep sit met lekkende riool in en voor hul eiendomme soos vroeër die week in Blommesteinstraat in Fichardtpark .

Inwoners sal ook 8% meer moet betaal vir vullisverwydering.

Volgens die begroting, maak die metro voorsiening vir R17.7 miljoen vir die volhoubaarheid van vullisverwydering. Daarby word R3,5 miljoen beskikbaar gestel vir die onderhoud van parke, toegangsroetes tot die stad en die snoei van bome.

Francois Nel, waarnemende hoof van vullisverwydering in die Mangaung-metro en lid van die nasionale ingrypingspan, het Woensdag op ’n inwonersvergadering gesê daar is nou ’n tender geaktiveer wat vir ’n maand gaan help met die agterstand in vullisverwydering in die metro.

Braam Vorster van die VF Plus, het op Donderdag se vergadering gesê dit is hoogs onwaarskynlik dat die geskatte operasionele inkomste van R9,31 miljard op die begroting bereik sal word nie. “Dit is baie meer realisties dat die invorderingskoers 82% sal wees.

“Die inkomste uit water word geprojekteer op R1,84 miljard terwyl die uitgawes geprojekteer word op R2,11 miljard. Dit beteken dat die metro geen wins sal maak uit die verkoop van water nie, maar ’n verlies van R270 miljoen sal ly.

“Die VF Plus het meer as 40 klagtes van belastingbetalers gekry oor stukkende watermeters wat verwyder is en nog nie met nuwe meters vervang is nie. Hierdie huise ontvang dus nie nou rekeninge vir hul waterverbruik nie.”

Leech sê groot klem moet gelê word op skuldinvordering en dat die begroting soos dit gedien het nie befonds is soos die burgemeester te kenne gegee het nie.

“Die invorderingskoers is nie 95% nie, hoewel die metro daarna moet streef,” het sy gesê. “Dit is nader aan 70% en was in Augustus verlede jaar so laag soos 52%.”

Sy sê as die metro sy inkomstestroom wil verhoog, moet rompslomp wat ondernemings verhinder om hier te ontwikkel, uit die weg geruim word. “Die metro se belastingbasis moet ook dringend vergroot word.”

Nthatisi het gesê geldinvordering vorder en dat die departement publieke werke Donderdagoggend reeds R50 miljoen aan uitstaande skuld betaal het.

You need to be Logged In to leave a comment.