Die beplande bekendstelling van die Mangaung-metropolisiediens wat vir Donderdag (30/09) beplan was, is op die nippertjie afgelas weens dreigemente dat gemeenskapsgroepe Bloemfontein tot stilstand wou ruk.
Die bekendstelling en parade sou om 10:00 in die Toyota-stadion plaasgevind het, maar Qondile Khedama, bestuurder van die metro se kommunikasie-afdeling, het Donderdag vroeg ’n kennisgewing uitgestuur om te sê dat die geselligheid weens onvoorsiene omstandighede uitgestel is.
Sisi Ntombela, Vrystaatse premier, het weer op hoë vlak ingegryp oor dreigemente van betogings – weens onder meer ontevredenheid oor die metropolisiediens – wat daarop gemik was om Bloemfontein gister tot stilstand te ruk.
Potso Motoko, voorsitter van die Mangaung-diensleweringsforum, het vroeër in ’n verklaring gesê hulle sou Bloemfontein en ander dorpe in die Mangaung-metro Donderdag “toemaak”.
Ná samesprekings met Ntombela het hy egter Woensdag gesê hul optrede is uitgestel.
Die forum is ontevrede omdat Israel Kgamanyane, hoof van die Mangaung-metropolisiediens, volgens hulle onbevoegde kaders sonder toepaslike kwalifikasies aanstel.
Dr. Elizabeth Snyman van Deventer, raadslid van die VF Plus, het Donderdag laat in ’n verklaring gesê die meeste inwoners is nie ten gunste van die metropolisie nie omdat die lede wat aangestel is, ’n misdaadgeskiedenis het. “Miljoene rande is ook vermors om voertuie te koop.”
Die voertuie is al in Mei 2018 gekoop.
“Dit wil voorkom asof daar steeds vandag (Donderdag) ’n geselligheid by die stadion op belastingbetalers se onkoste gehou is. Na bewering is die partytjiegangers ANC-kaders en munisipale amptenare.”
Van Deventer sê die VF Plus was van meet af aan sterk daarteen gekant dat die Mangaung-metro ’n geselligheid reël vir die metropolisiediens, wat nie funksioneer nie.
Die metropolisie sal moet toesig hou oor kwessies soos openbare veiligheid en sekerheid en voldoening aan munisipale verordeninge en verkeerswette.
Die Mangaung-diensleweringsforum eis dat:
* die metropolisie se bekendstelling gestaak word sodat behoorlike prosesse vir die indiensneming van Mangaung-inwoners gevolg kan word;
* daar verantwoordbaarheid oor Bloemfontein se taxiterminus is – daar moet by die oorspronklike plan gehou word om te keer dat verkeer ophoop, en die veiligheid van voetgangers en padgebruikers moet aandag kry;
* swak paaie aandag kry, veral dié wat ’n invloed op openbare vervoer het;
* ondersoek gedoen word na bewerings oor geld wat gebruik is om die Celtic-sokkerklub te koop;
* ondersoek gedoen word na hoe gemeenskapsgesondheidswerkers as permanente werkers aangestel kan word;
* klagtes van die swak reaksie van mediese nooddienste aandag kry;
* ontevredenheid by die Vrystaatse onderwysdepartement aandag kry – dit hou verband met bewerings dat December Moloi, die Motheo-distriksdirekteur, glo skoolhoofde van buite Mangaung betrek om toesig oor plaaslike onderwysers te hou ;
* behoorlike toesig oor die polisie gehou word – daarby het die polisie nie genoeg voertuie om hul werk te doen nie, wat tot frustrasie in gemeenskappe lei (swak werkstoestande van die polisie en die veiligheid van die polisielede moet ook aandag kry);
* ’n forensiese ondersoek na die Mangaung-metro se swak ouditverslag gedoen word, asook na die oorsake van die ineenstorting van dienslewering;
* ondersoek gedoen word na waarom die departement van ekonomiese en kleinsakeontwikkeling, toerisme en omgewingsake nie daarin kon slaag om Covid-19-verligtingsgeld toe te deel en hulp te bied aan sukkelende kleinsakeondernemings nie; en
* werkverskaffing aan onwettige immigrante onmiddellik gestaak word en dat hulle op groot skaal huis toe gestuur word – immigrante mag net in Suid-Afrika toegelaat word as hulle minstens R5 miljoen in die land belê.