Die Mangaung-metro het reeds talle stappe geneem om die eens wankelende administrasie reg te ruk met planne wat ingestel word om die lewe vir inwoners beter te maak.
Só het die metro se uitvoerende burgemeester, Gregory Nthatisi, op Dinsdag 27 Mei tydens die stads-
rede by die Mangaung- binnenshuise sportsentrum in Rocklands gesê.
Nthatisi het op die bekendstelling van die 2025-’26 begroting gesê talle sleutelaanstellings is die afgelope maande gedoen en die stad se makro-struktuur gaan meer stabiliteit bring.

Hoewel Nthatisi erken dat daar baie uitdagings was soos die sewe waarnemende stadsbestuurders van 2021 tot 2023, is die aanstelling van departementshoofde en ‘n fiansiële bestuurder nou in plek.
“Ons het veerkragtigheid getoon onder geldelike beperkings, maar vandag gaan ons ‘n geloofwaardige, relevante en ten volle befondste begroting goedkeur,” het Nthatisi gesê.
DA-raadslid Frans Bothma sê daarop die begroting is onrealisties en ver verwyder van die realiteit. “Ongeag
Hoewel Nthatisi sê daar word nou gekyk na die mikrostruktuur van die metro se personeel, sê Bothma meer as 4 000 amptenare neem waar in poste.
“Die ANC se versuim om poste te vul, ondermyn dienslewering en lei tot die aanstelling van duur kontrakwerkers,” sê Bothma.
Terwyl Nthatisi klem gelê het op die goeie werk wat met skuldinvordering gedoen word, het Bothma gemaan dat ‘n groot deel van die uitstaande skuld agterstallig van staatsdepartemente is.
“Meer as R2,5 miljard van die uitstaande 9,5 miljard is historiese skuld wat waarskynlik nooit ingevorder sal word nie,” het Bothma in sy reaksie gesê.
Die metro het ‘n tydelike program waarvolgens inwoners aangemoedig word om hul munisipale rekeninge op te betaal. Die metro bied aan inwoners grasie tot 30 Junie om agterstallige skuld te betaal of ‘n reëling met die metro te tref.
Nthatisi sê die program het tot April reeds R127 miljoen van agterstallige skuld ingevorder; R82 miljoen van R206 miljoen is afgeskryf.

Foto: Lientjie Mentz
Hy sê met die hernude poging om invorderings te doen, mik die metro om 80% te behaal op invorderings om diensleweringsagterstande in te haal.
Nthatisi sê daar word ook gekyk na toekomstige insentiewe om inwoners te beloon as hulle nie afterstallig raak met hul betalings aan die metro nie.
Die nuwe tariewe is ook aangekondig. Watertariewe styg met 11%; elektrisiteit verhoog met 13,5%, soos goedgekeur deur die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa); en eiendomsbelasting, sanitasie en vullisverwydering verhoog met 4,4%.
Die VF Plus het die begroting verwerp en sê dit is bloot ‘n gepoleerde en misleidende samevatting om die werklike stand van dienslewering in die metro te verbloem.

Valerie de Kock, VF Plus-raadslid, sê die metro gebruik tegniese taal en selektiewe data om sy mislukkings toe te smeer in stede daarvan om die probleme daadwerklik en verantwoordbaar te hanteer.
Die VF Plus het skerp kritiek uitgespreek teen misleidende statistieke in die hersiene dienslewerings- en begrotingsinstellingsplan (SDBIP) wat onder meer aandui dat 95% van huishoudings in informele nedersettings sedert Julie 2023 basiese vullisverwyderingsdienste ontvang.
“Dit is bloot nie die geval nie.”
Die party eis dat die metro volle verantwoordelikheid neem vir die wanbestuur wat tot die verlies van voorwaardelike toekennings lei en dringend maatreëls instel om die verlies van toekomstige toekennings te verhoed.
Nthatisi het in sy toespraak verwys na voorwaardelike toekennings en waarvoor dit aangewend gaan word.
Hy sê R37 miljoen is vir die komende jaar beskikbaar vir die opknapping van die Maselspoort-
watersuiweringsaanleg en in nog R118,4 miljoen is vir 2026 begroot.
Hy sê dit sal die gehalte van water wat aan gemeenskappe voorsien word, verbeter en die stad minder afhanklik maak van die Vaal Central Waterraad.
Bothma sê die DA kan nie ‘n begroting ondersteun wat nie geloofwardig is nie.
“Die gaping tussen wat op papier belowe word en wat inwoners daagliks ervaar, word ál groter,” sê hy.
Die begroting vir 2025/26, nuwe tariewe en ruimtelike ontwikkelingsplan vir 2025/26 is op die vergadering met ‘n meerderheidstem van die ANC goedgekeur.
You must be logged in to post a comment.