Die weegbrug by Mangaung se suidelike stortingsterrein. FOTO: Verskaf

Eienaars van vullisverwyderingsdienste is bekommerd oor die toekoms van hul ondernemings met die instel van tariewe by Bloemfontein se twee stortingsterreine.

Die Mangaung-metro se raad het op ‘n vergadering op 27 Mei die nuwe tariewe vir die stortingsterreine goedgekeur, en dit sal van 1 Augustus geld.

Volgens ‘n kennisgewing van die metro word die weegbrûe by die stortingsterreine nou opgeknap en behoort dit gereed te wees vir ingebruikneming op 1 Augustus. Die tariewe geld vir die geldjare van 2025 tot 2028.

Inwoners wat algemene en nie-gevaarlike vullis minder as 500kg aflaai, sal dit steeds gratis kan doen. Inwoners wat meer as 500kg gaan aflaai, sal R130 betaal.

Kontrakteurs en sakelui sal R263 opdok.

Marius Scholtz van ‘n plaaslike vullisverwyderingsdiens, sê die nuwe tariewe is baie onregverdig. “Ons kon nou weer vir ses weke nie in die suidelike vullisterrein inkom nie. As die weegbrug in werking is, gaan dit ons duur kos. Ons lewer juis hierdie diens omdat die Mangaung-metro nie gereeld vullis verwyder nie.”

Scholtz sê hulle het nie ‘n probleem om te betaal nie, maar dan moet daar goeie paaie in die vullisterrein wees sodat hulle kan omdraai en die vullis moet behoorlik weggewerk word.

Nog ‘n kontrakteur Jannie Bredenkamp sê die redenasie dat mense by stortingsterreine in ander metro’s betaal om groot hoeveelhede vullis af te laai, geld nie Bloemfontein nie. “Mangaung se stortingsterreine se standaard kan nie met daardie terreine vergelyk word nie. My voertuie en bande kry gereeld skade omdat die paaie nie in die suidelike of noordelike stortingsterreine nie behoorlik geskraap word nie. As hulle tariewe hef, moet die diens by die tarrein aansienlik verbeter. Die sakgrawers op die terrein spring op die bakkies en gooi die vullis oral. Dit beskadig ons voertuie.”

Hy sê as almal eers oor die weegbrûe moet beweeg, gaan dit groot opeenhopings veroorsaak. “Daar is reeds geen ruimte om vullis af te laai nie en dit is baie moeilik om, om te draai binne die terreine. As daar nou nog voertuie ophoop by die weegbrug, gaan dinge moeilik raak.”

Hy sê as daar vir die diens betaal moet word, moet dit ‘n realistiese prys wees. “Ek het maklik in ‘n maand skade van R15 000 aan my voertuie, nou moet ek nog betaal om vullis af te laai ook.”

Christo Groenewald van AfriForum sê hulle het kennis geneem van die nuwe tariewe. “Dit gaan ons meer kos om vullis af te laai, maar ek dink nie die tariewe is buitensporig nie. Dit gaan wel kleiner ondernemings, wat nie daarvoor begroot het nie, benadeel,” sê hy. Hy sê as die metro hierdie tariewe instel, sal die standaard van die strotingsterreine aansienlik moet verbeter en dit sal aan wetgewing moet voldoen. “Daar is wel al begin met ‘n nuwe heining om die suidelike stortingsterrein, maar die metro sal die honderde sakgrawers wat hier bly, moet verwyder. Die veiligheid en diens hier sal baie moet verbeter as mense tariewe moet betaal.”

Inwoners wat tuin-afval aflaai, doen dit gratis, maar kontrakteurs van Mangaung wat meer as 500kg se tuinafval aflaai, sal R130 per vrag betaal.

Inwoners van buite die grense van die Mangaung-metro sal R316 per vrag betaal.

Skoon boumateriaal en grond wat gebruik kan word om vullis te begrawe, kan gratis by die munispale stortingsterreine afgelaai word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article