Henry Denner, VF Plus-raadslid praat in die raadsvergadering op 31 Julie.

Die stadsbestuurder van die Mangaung-metro het ‘n verstommende 100% gekry vir sy sleutelprestasie-beoordeling (KPI) – dit terwyl die metro se verval vir almal sigbaar is.

VF Plus-raadslid Henry Denner sê dit blyk uit die jongste kwartaalverslag oor dienslewering en die begrotingsimplementeringsplan wat Donderdag 31 Julie aan die raad voorgelê is.

“Dit is ongelooflik dat ʼn hoof van ʼn metro, wat sigbaar wanfunksioneel is, as foutloos en uitstaande geëvalueer kan word,” het hy op die verslag gesê.

Luidens die verslag is 67% van die metro se totale prestasies van “volledig effektief” tot uitsonderlik bogemiddeld” beoordeel.

“Hierdie rooskleurige prentjie weerspieël geensins inwoners se daaglikse werklikheid van vervalle paaie, onbetroubare sanitasiedienste en vrot infrastruktuur nie.”

Die verslag meld ook ’n sogenaamde 80%-invorderingskoers vir dienste gelewer, maar terselfdertyd beplan die metro om skuld van R2,8 miljard af te skryf.

Reaksiesyfers op diensversoeke word aangegee as 96,9% vir sanitasie en 87,3% vir waterverwante probleme. “Dit is glad nie die ervaring van inwoners  wat op gemeenskaps-WhatsApp-groepe kan getuig oor klagtes wat dikwels geïgnoreer word en herstelwerk wat maande lank sloer nie.

“Die metro se groot probleem is verkeerde prioriteite. ‘n Voorbeeld is die R677 000 wat die metro aan tuinontwerp en grasperke rondom die Bram Fischer-gebou bestee het terwyl omliggende woonbuurte agteruitgaan en basiese dienslewering stilstaan,” sê Denner.

“Die stadsbestuurder se prestasiebeoordeling is duidelik ʼn geval van self-evaluering – jy skryf die toets, merk dit self en gee jouself volpunte.

“Hierdie soort selfverheerliking is tekenend van die ANC wat tred met die werklikheid verloor het.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article