Rook hang gereeld oor die suidelike en noordelike stortingsterreine.

In ’n dringende brief wat die burgerregte-organisasie AfriForum op Dinsdag 10 Junie aan die Mangaung-metro se munisipale bestuurder, Sello More, gerig  het, word geëis dat die vervalle toestand van die metro se noordelike en suidelike stortingsterreine dringend omgekeer word.

Hierdie terreine verkeer reeds vir etlike jare in ’n toestand van wetteloosheid en verval, ten spyte van herhaalde waarskuwings en versoeke om op te tree.

Volgens Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder in Bloemfontein word daar jaarliks toenemende wetlike oortredings by hierdie terreine waargeneem, wat nie net die metro se eie afvalbestuursverpligtinge versuim nie, maar ook verskeie nasionale wetgewing, insluitend die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur, die Wet op Beroepsgesondheid en -veiligheid, en die Wet op Luggehalte oortree. Die terreine voldoen eenvoudig nie aan minimum omgewings-, gesondheids- of veiligheidsvereistes soos deur wetgewing en lisensievoorwaardes bepaal nie.

Inwoners stort gereeld vullis langs die Ferreirapad. Een van die redes is omdat daar nie vanaf die suide meer ‘n toegangspad na die suidelike stortingsterrein is nie ná die ontwikkeling van die nuwe Vista-park-uitbreidings. Inwoners moet nou óf met die N1 of oor die Vereenigingrylaanbrug tot by OR Tambostraat ry om tot by dié stortingsterrein. Boonop is inwoners bang vir misdaad by die stad se stortingsterreine. Foto: Lientjie Mentz

Groenewald sê een van die mees ontstellende aspekte is die onwettige bewoning van die terreine deur individue wat sonder enige vorm van toesig of regulasie daar leef. Dit belemmer veilige bedrywighede en skep ruimte vir misdaad en gevaarlike praktyke. Daar is geen doeltreffende toegangsbeheer of moniteringstelsels om aktiwiteite op die terreine te reguleer nie.

“Boonop is baie van die voertuie en toerusting op die terreine nie funksioneel of veilig nie, wat werkslui en rommelversamelaars se lewens in gevaar stel, en ook ’n risiko vir die omliggende gemeenskappe inhou.

Die gebrek aan befondsing in basiese infrastruktuur is ’n direkte weerspieëling van die munisipaliteit se versuim om sy verantwoordelikhede ingevolge sy eie geïntegreerde afvalbestuursplan na te kom,” sê Groenewald.

Nog ’n ernstige probleem is die voortdurende brande op die terreine. “Hierdie vure laat dik rook oor woonbuurte hang met veral kwesbare inwoners wat die gevolge dra. Dit hou gesondheidsrisiko’s in en is ’n oortreding van die Wet op Luggehalte, wat plaaslike owerhede verplig om sulke bedreigings te voorkom.”

Groenewald het ook kommer uitgespreek oor die onbeheerde en onwettige storting van huishoudelike en gevaarlike afval, wat sonder enige duidelike protokolle of beskermingsmaatreëls plaasvind. Dit lei tot ernstige omgewingskade, grond- en waterbesoedeling, en verhoogde brandrisiko’s, plae en siekteverspreiding. “Die situasie toon duidelik dat geen van die terreine voldoen aan die standaarde wat vir sodanige geriewe vereis word nie.”

Die probleem strek egter verder as die grense van die terreine self. Daar is ’n skerp toename in onwettige storting van afval buite die aangewese terreine. Die publiek en ondernemings vermy dit om van die bestaande geriewe gebruik te maak omdat dit onveilig is, wat ’n toename in onwettige vullisterreine regoor die metro en ’n verdere las op openbare gesondheid veroorsaak.

In die brief aan More eis AfriForum dat die Mangaung-munisipaliteit binne 14 dae ’n skriftelike reaksie verskaf, sowel as ’n omvattende aksieplan wat ’n tydlyn en konkrete stappe insluit vir die herstel van beide terreine tot minimum wetlike en operasionele standaarde. Die organisasie dring ook aan op duidelike optrede teen onwettige storting en die implementering van maatreëls by die vullisterreine om toeganklikheid en veiligheid te verseker en omgewingsrisiko’s te beperk.

“Sou die munisipaliteit versuim om aan hierdie versoeke gehoor te gee, sal ons nie skroom om die saak onder die aandag van provinsiale en nasionale owerhede te bring nie. Regstappe sal ook oorweeg word om inwoners se regte en die omgewing te beskerm.”

Volgens Groenewald is die huidige situasie niks minder nie as ’n omgewingsramp en ’n skending van inwoners se reg op ’n veilige en gesonde leefomgewing.

“Ons doen ’n beroep op die munisipaliteit om nie langer hierdie kwessies te ignoreer nie en sy wetlike en morele verpligtinge na te kom teenoor die inwoners van die metro.”

In sy stadsrede op 27 Mei het Mangaung se burgermeester Gregory Nthatisi gesê R15 miljoen van die Stedelike Nedersettingsontwikkelingstoelaag in die 2025/26 geldjaar sowel as R80 miljoen in volgende jaar se begroting vir die rehabilitasie van die noordelike stortingsterrein. Hy sê ‘n verdere R42,3 miljoen van dié begroting gaan vir die ontwikkeling van ‘n nuwe stortingsterrein.

You need to be Logged In to leave a comment.