’n Uitspraak in die Vrystaatse Hooggeregshof teen die Mangaung-metro sal in die toekoms hoop gee vir inwoners wat skade ly weens onregmatige of nalatige optrede deur die munisipaliteit.
Regter Corné van Zyl het op Donderdag 5 September uitspraak gelewer in die saak van Cobra Towing teen die Mangaung-metro as eerste verweerder, die munisipale bestuurder as tweede verweerder en die hoof van die brandweer as derde verweerder.
Die saak spruit uit ’n brand wat op 16 November 2018 by Cobra Towing by Henry van Rooijenstraat 17 in Ooseinde uitgebreek het. Dié onderneming het groot skade gely toe daar nie water beskikbaar was waarmee die metro se brandbestryders die brand kon blus nie.
Steyn Wepener van Cobra Towing sê die uitspraak is ’n deurbraak vir almal wat ly wanneer die munisipaliteit nie sy pligte nakom nie.
Cobra Towing het ’n bedrag van R785 714,30 vir skade aan voertuie en onderdele, asook ’n verlies aan inkomste weens die brand, geëis.
Wepener sê Cobra Towing het gehelp toe SA Funeral Supplies vroeër dieselfde maand (November 2018) miljoene rande se skade gely het toe sy houtkiste uitgebrand het.
Hy het ook verwys na die groot skade wat die naweek by die Behlehem-lugskou gely is weens die beweerde nalatigheid van die Dihlabeng- Plaaslike Munisipaliteit.
’n Veldbrand het Saterdag omstreeks 14:00 ontstaan nadat vleisbraaivuur buite beheer geraak het. Sowat 19 voertuie in ’n parkeerterrein op die lugskou is beskadig.
Wynand Flemming van die Bezuidenhout Ingelyf-prokureursfirma sê munisipaliteite probeer dikwels hul pligte verskans agter munisipale ordonnansies, maar laat buite rekening dat hulle aanspreeklik gehou kan word weens hul versuim, of onregmatige of nalatige optrede.
In hofstukke sê regter Van Zyl die eiser se waterrekening aan die Mangaung-metro was opbetaal en hy was dus geregtig op water. Die watertoevoer in Ooseinde was in daardie stadium na bewering onderbreek weens wanbetaling van sommige kliënte.
Omdat die metro nie water aan die perseel beskikbaar gestel het nie, het die brand vinnig versprei as direkte gevolg van die tekort aan water.
Die hof hou in dié geval van Cobra Towing se saak die Mangaung-metro, asook die stadsbestuurder van die metro, verantwoordelik vir die kliënt se skade.
Regter van Zyl het beveel dat ’n bedrag van R648 542,02 asook die koste van die regsaksie, deur die Mangaung-metro betaal word.
Adv. Jolindie Ferreira het opgetree vir die eiser en adv. Aytey Ayayee het opgetree vir die verdediging.