‘n Manne-koorfees word op 9 Augustus in Bloemfontein aangebied. FOTO: AI

Die Bloemfonteinse mannekoor vier sy 25ste bestaansjaar met ‘n manne-koorfees op Saterdag 9 Augustus.

Mario Lategan en dr. Wilhelm Lichtenberg is die gaskunstenaars op die geleentheid, met talle kore wat gaan optree. Dit sluit in Take Note, die George-mannekoor, die Indomitus Grey-koor en die koor van Grey-kollege (primêr).

Die koor is in Mei 2000 deur Ansphi van der Walt begin en het deur die jare al talle hoogtepunte bereik. Bekendes soos Nataniël, Mathys Roets, André Schwarts, Charl du Plessis, Danie Niehaus en Piet Smit, asook plaaslike sangers, het al saam met die koor opgetree. Die manne het ook al saam met kore van oor die land heen opgetree.

Die Bloemfonteinse mannekoor bestaan uit, van links, voor: Jac Prinsloo, Stephan Legrange, Hennie Prinsloo, Ansphi van der Walt (koorleier) Petro Engelbrecht (begeleier), Bernard Smit, Levert Solomons en Reghard de Neisch; agter: Xander van Staden, Mark Letley, Eric Coetzee, Harry Coetzee, Andre Sprong, Gustav Grunau en Andre Wessels. Foto: Verskaf

Die koor het oorsese reise onderneem met ‘n toer na Wallis in 2014, waar hy aan die Llangollen- Internasionale Eisteddfod deelgeneem het. Op die geleentheid het die koor ‘n silwermedalje verower.

In ‘n spesiale konsert het die koor voor 3 000 mense, asook Prins Charles (nou Koning Charles) en sy vrou, Camilla, opgetree. Hier is die koor staande toegejuig.

Die mannekoor bied aan alle mans van Bloemfontein wat ‘n passie vir die uitvoerende kunste het ‘n kans om hulle hier aan te sluit. Koorlede word ingedeel volgens stemme: eerste tenoor, tweede tenoor, bariton en bas.

Die koor bestaan uit dié wat hul tyd gratis opoffer vir oefeninge en optredes. Klassieke werke, asook kontemporêre Suid-Afrikaanse musiek van alle kulture, word gesing.

Die manne-koorfees vind om 19:00 in die Geloofsentrum in Universitas plaas. Aan die einde van die fees sing al die manne in ‘n massakoor saam.

Kaartjies vir die fees kos R120 en is op phoenixpro.co.za of by die deur beskikbaar.

You need to be Logged In to leave a comment.