Mans gevonnis tot 25 jaar vir diefstal van Centlec-infrastruktuur

Twee mans is tot elk 25 jaar tronkstraf gevonnis vir die beskadiging en diefstal van Centlec se infrastruktuur. Hulle het elektriese panele ter waarde van R500 000 gesteel,.


Twee mans is Maandag 14 April in die Bloemfonteinse streekhof elk tot 25 jaar tronkstraf gevonnis vir hul betrokkenheid by die beskadiging en diefstal van infrastruktuur, wat aan die elektrisiteitsverskaffer Centlec behoort het.

Tumisang Sello Khosi (31) en Pitso Donald Molalenyane (34) is in hegtenis geneem ná hulle in November 2022 onwettig toegang verkry het tot ‘n Centlec-substasie in die Vrystaat.

Volgens die ondersoekbeamptes het die mans verskeie elektriese panele verwyder – komponente wat noodsaaklik is vir die verspreiding van elektrisiteit aan omliggende gemeenskappe. Die gesteelde panele is op ongeveer R500 000 geskat. Die totale skade aan die infrastruktuur is R2,5 miljoen.

Khosi en Molalenyane is vasgetrek nadat die gesteelde toerusting in hul besit gevind is.

Die polisie se deeglike speurwerk het daartoe gelei dat die verdagtes in hegtenis geneem kon word.

Albei beskuldigdes is skuldig bevind op aanklagte van die beskadiging van noodsaaklike infrastruktuur, sowel as die diefstal daarvan.

Die hof het elkeen van hulle 15 jaar tronkstraf opgelê vir die beskadiging, en ‘n verdere 15 jaar vir die diefstal. Vyf jaar van die twee vonnisse sal gelyktydig uitgedien word, wat beteken dat elke man ‘n effektiewe vonnis van 25 jaar tronkstraf sal uitdien.

Sersant Mahlomola Kareli, polisiewoordvoerder, sê die hof se besluit stuur ‘n sterk boodskap uit dat die owerhede vasbeslote is om misdade wat noodsaaklike dienste bedreig, ernstig te hanteer.

You need to be Logged In to leave a comment.