Mans in hof ná standbeeld voor Sand du Plessis-teater verdwyn

Twee mans het Woensdag in die Bloemfontein-landdroshof verskyn op klagte van besit van gesteelde goedere nadat die standbeeld van Sand du Plessis wat voor die Sand du Plessis-teater gestaan het, verdwyn het.


Twee mans het Woensdag in die Bloemfontein-landdroshof verskyn op klagte van besit van gesteelde goedere nadat die standbeeld van Sand du Plessis wat voor die Sand du Plessis-teater gestaan het, verdwyn het.

’n Saak van besit van vermeende gesteelde eiendom is by die Parkweg-polisiekantoor geopen.

Orapeleng Leeuw (18) en Karabo Nthedeshe (18) is vrygelaat op waarskuwing terwyl die polisie die saak verder ondersoek.

Lt.kol. Thabo Covane, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Polisiediens, het Woensdag (12/10) ’n verklaring uitgereik dat die polisie Dinsdag om 08:45 ’n oproep van ’n skrootmetaal-handelaar in Manionweg in Oranjesig ontvang het.

Die polisie het daar twee mans in hegtenis geneem met die standbeeld in ’n winkeltrollie.

Die standbeeld het uit die tuin van die Sand du Plessis-teater verdwyn.

’n Lid van die publiek het op ’n veiligheidsgroep gesien dat daar gevra word of iemand weet van wie die vermeende gesteelde standbeeld is.

Hy het dr. Johan van Zÿl van die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke gekontak wat die beeld dadelik as dié van Sand du Plessis, ’n voormalige administrateur van die Vrystaat, geëien het.

Die beeld het op ’n voetstuk by ’n muurtjie waarop die teater se naam staan, aan Markgraafstraat se kant in die tuin gestaan.

Personeel van Pacofs sê hulle kom nie baie voor in die tuin nie en is nie seker wanneer die standbeeld verdwyn het nie.

Die teaterkompleks is in 1985 geopen en die standbeeld van die man na wie dié teaterkompleks vernoem is, is destyds hier onthul.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.