Hierdie mandjies is onder die groot verskeidenheid produkte wat Saterdag (07/05) op die Franse Mark gekoop kan word.Foto: Lientjie Mentz


Met Franse musiek om te geniet, kos en peuselhappies om aan te smul en pragtige ware om te koop, sal ’n uitstappie na die Franse Mark by Villa Avianto in Kwaggafontein Saterdag (07/05) vir elkeen ’n lekker ervaring wees.

Suretha van Heerden, mede-eienaar van Villa Avianto en organiseerder van die Franse Mark, sê die span is gereed om elkeen te verwelkom.

“Ons Mei-mark is nog groter as voorheen met ’n vol program en ’n hele paar nuwe uitstallers,” sê sy.

Begin die dag op ’n flukse noot met die Spice Walk om 07:00.

“Die mark begin om 08:00, so kom geniet jou ontbyt op die mark voordat jy tussen al die stalletjies drentel en na hartelus koop.”

Die Franse Mark is die perfekte plek om te kom soek na ’n mooi geskenk vir iemand spesiaal, of om jouself ’n slag met iets besonders te bederf.

Die Franse Mark bied uitstallers met unieke produkte. Kinder­vermaak word ook gebied.

Om besoekers verder te vermaak tree Arco Musica van 11:00 tot 14:00 op. Die groep musikante sal ook aan besoekers ’n voor­smakie gee van die opkomende Celebra­tion Show wat op 20 en 21 Mei om 19:00 in die Doxa Deo-ouditorium uitgevoer word.

Dié vertoning kyk terug oor die 30 jaar van Arco Musica se bestaan.

Die mark, vol Franse sjarme, duur tot 15:00.

Toegang kos R20, maar gr. 1- tot gr. 7-leerlinge betaal R10.

You need to be Logged In to leave a comment.