Besoekers kan weer op Saterdag 4 Maart op die Franse Mark by Villa Avianto ontspan.Foto: Lientjie Mentz


Ontspan op Saterdag 4 Maart op die Franse Mark terwyl jy tussen stalletjies drentel om daardie perfekte bederfie vir jouself, of ’n geskenk vir iemand spesiaal, te koop.

Die Franse Mark op Villa Avianto in Kwaggafontein bied tussen 07:30 en 15:00 ’n heerlike rustige atmosfeer met kos, kuns, vermaak en die geleentheid om saam met vriende en familie te kuier.

Die mark is bekend vir sy hoëgehalte-produkte: alles van leer en hout tot juwele, ontwerpersklere, babaklere, dekorartikels en meubels.

Daar is heerlike gourmet-disse om aan te smul terwyl jy by die stalletjies koeke, terte, brode, kase, tuisgemaakte souse, patees, pesto’s en tapenades kan koop.

Daar is oudergewoonte jenewer, asook wyn, te koop waarin markgangers hulle onder sambrele kan verlustig.

Suretha van Heerden, mede-eienaar van Villa Avianto en koördineerder van die Franse Mark, sê hulle wil graag vanjaar aan nuwe, kreatiewe entrepreneurs ’n platform bied om hul produkte te verkoop.

“Elke mark word deur ’n kort opleidingsgeleentheid vir uitstallers voorafgegaan. Die mark bied aan uitstallers ’n geleentheid om uit te stal, maar ook om tussen ander entrepreneurs te groei, te leer en te verbeter.”

Die kunstenaar op Maart se mark is Naledi Mohapi, Bloemfonteinse sanger en liedjie­skrywer.

Toegang tot die mark kos R30, en R10 vir laerskool­kinders. Kinders jonger as ses jaar kry gratis toegang.

Besoek die webwerf villa-avianto.co.za of skakel 083-329-4872.

Bloemnuus is die gedruktemediaborg van die Franse Mark.

You need to be Logged In to leave a comment.