‘n Stuk van die grafsteen wat van ‘n graf in Memorium-begraafplaas gesteel is, op ‘n ander graf.

‘n Soliede marmer-grafsteen is van ‘n graf in die Memorium-begraafplaas in Bloemfontein gesteel.

Susan Eloff-Joubert (89) sê sy is moedeloos nadat vandale nou die tweede keer dele van haar oorlede man se grafsteen gesteel het.

“In 2021 moes ons die kopstuk weer vas sit nadat die marmer waarop dit gestaan het, afgesteel is,” sê sy oor haar man, wyle Gawie Joubert wat in 2017 oorlede is, se graf.

Tannie Susan Eloff-Joubert met ‘n foto van haar oorlede man se graf voor en nadat die marmerblad gesteel is. FOTO: LIENTJIE MENTZ

“Ek gaan gereeld saam met ‘n tuinwerker en my huurder om inspeksie te doen by sy graf,” sê sy.

Tannie Susan sê in Januarie was alles nog reg by die graf, maar toe sy nou verlede week daar ‘n draai gaan maak het om netjies te maak ná die baie reën, moes sy vind dat die marmersteen, wat die graf bedek het, weg is. “Die gras het al hoog gegroei, wat seker wys dat dit ‘n paar maande terug gebeur het.”

Sy sê ‘n deel van die grafsteen was daar naby op ‘n ander graf, wat wys dat die boewe net met die helfte van die swaar marmersteen daar weg is.

Dirk Kotze, DA-wyksraadslid sê daar is baie probleme met grafte in Memorium wat geskend word.

“Een van die probleme is die grafte wat meer as 100 jaar oud is. Al die grafte het ‘n 100 jaar pag op voordat dit weer gebruik mag word. Ongelukkig is daar geen register van grafte nie en baie moeilik om te bepaal wie waar begrawe is.”

Kotzé sê die Mangaung-metro het uiteindelik ná 10 jaar begin om ‘n heining ter waarde van R5,7 miljoen om die twee dele van die begraafplaas weerskante van Memoriumweg op te rig. Volgens munisipale wetgewing moet die hekke saans om 18:00 gesluit word en in die oggend oopgesluit word, wat nie gedoen word nie.

Wyle Gawie Joubert wie se graf geskend is, het in 1994 gehelp met die bou van die A.P. Kerk Moedergemeente in Bloemfontein.

Van die wagte waarvoor die Mangaung-metro R50 000 per maand betaal, is daar niemand by Memorium te sien behalwe die wagte by die krematorium nie.

Tannie Susan sy was 54 jaar oud toe sy met oom Gawie getrou het. “Toe ons jonk was, het ek vir hom gesê hy gaan nog horingoud word en ek gaan nog met hom trou. Hy het drie vroue oorleef voordat ek met hom getrou het toe hy 72 was,” vertel sy oor haar man. Sy sê hy het gehelp met die bou van die A.P. Kerk Moedergemeente in Bloemfontein. “Ek wil graag sy gedagtenis eer.”

Joubert-Eloff sê sy het nou gereel dat die graf weer netjies gemaak word, maar sy kan nie meer die duur marmer wat daar eens was, bekostig nie.

Werk aan oom Gawie Joubert se grafsteen toe vandale dit in 2021 gebreek het.

You need to be Logged In to leave a comment.