’n Verhoordatum is Dinsdag (22/08) in die streekhof in Bloemfontein bepaal vir een van die mans wat teregstaan ná die aanranding van twee broers op Kersdag verlede jaar by Maselspoort.
Johan Nell se verhoor sal vroeg in Desember vanjaar in die streekhof voortgesit word.
Dié saak spruit uit ’n voorval op Kersdag verlede jaar by die Maselspoort-vakansieoord naby Bloemfontein waarin drie mans en twee seuns handgemeen in en om ’n swembad geraak het.
’n Video van die voorval is versprei, maar dit is nie op die video hoorbaar waaroor die onderonsie gaan nie.
Die staat beweer Nell het Kgokong Nakedi (18) met die oop hand geklap en hom in die swembad gestamp.
Kobus Klaassen, Nell se medebeskuldigde, sal na verwagting Maandag (28/08) moontlik ’n pleitooreenkoms met die staat aangaan.
Klaassen staan tereg op aanklagte van poging tot moord, aanranding en crimen injuria.
Nell en Klaassen se medebeskuldigde, Jan van der Westhuizen, is in Mei ’n boete van R4 000 of ’n jaar tronkstraf opgelê nadat hy ’n pleitooreenkoms met die staat aangegaan het. Hy is ook tot drie jaar tronkstraf gevonnis, wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is op voorwaarde dat hy nie weer op ’n aanklag van aanranding skuldig bevind word nie.
Jan Jordaan van JHJ Prokureurs Ing. tree vir Nell op.