Die Hoër Meisieskool Oranje in Bloemfontein se matrikulante van 2021 het hul tema – “Wees Eg En Skyn (WEES)” – gestand gedoen.
En skyn het hulle geskyn, in besonder op akademiese gebied.
- Nie net het hulle bykans elke skoolrekord in die nasionale seniorsertifikaateksamen verbeter nie, maar ook in die Vrystaat geskitter. Die 413 vakonderskeidings is die meeste deur enige matriekklas nog. Die vorige rekord was 401, wat 2020 se matrieks behaal het.) Die 43 leerders wat met ’n gemiddelde A-simbool geslaag het, is die meeste nog by Oranje. Altesaam 40 leerders in die matriekklas van 2002 kon dit bereik.) Die tien leerders met agt of meer onderskeidings – twee met nege onderskeidings en agt met agt – is die meeste deur enige skool in die provinsie. Slegs 26 leerders in die Vrystaat kon in 2021 agt of meer onderskeidings behaal.) Oranje se 11 leerders in die 50 topmatrikulante in die Vrystaat (die meeste deur enige skool) is net deur 2020 se groep (met 12) oortref.) Die 95,2% wat met universiteitsvrystelling geslaag het, is die naashoogste persentasie nog. Net 2020 se matrieks het ’n hoër gemiddeld (97,2%) behaal.) Chané Nel en Suzanne Streicher was die agtste en negende Oranjeniet sedert 2000 om nege of meer onderskeidings te behaal. Dit is ook net die tweede keer dat twee leerlinge in dieselfde jaargroep dié prestasie kon bereik.) Chané se gemiddeld van 96,5% is die hoogste deur ’n Oranje-matrikulant sedert daar in 2008 weggedoen is met bykomende punte wat met ekstra vakke behaal kon word. Leerders kon toe ’n gemiddeld van meer as 100% aanteken.