Andy Galloway (60), kunstenaar, joernalis en stigter-redakteur van Express, nou susterskoerant van Bloemnuus, is Saterdag (08/01) vermoedelik aan ’n hartaanval dood toe hy in die swembad van sy woonstelkompleks in die Strand in die Wes-Kaap geswem het.
Sonja Latsky, sy buurvrou, sê Galloway het omstreeks 09:00 as deel van sy oefenprogram gaan swem. Sy sê volgens die terreinbestuurder het Galloway terwyl hy geswem het skielik op sy rug en toe weer op sy maag gedraai.
Die bestuurder het dadelik onraad vermoed en hom te hulp gesnel. ’n Dokter, wat ook op die perseel woon, en die nooddienste is dadelik ontbied.
Galloway is egter omstreeks 09:45 dood verklaar.
Latsky sê sy sal Galloway altyd onthou vir die merkwaardige mens wat hy was.
“Ek sê altyd hy was my persoon. ’n Ongelooflike, reguit en eerlike mens wat so onbaatsugtig baie vir armer gemeenskappe gedoen het.”
Sy sê boodskappe stroom uit onder meer Amerika vir Galloway in.
“Hy was ’n digter, ’n skrywer, ’n wêreldklas-skilder en ’n mense-mens. Hy was eksentriek en baie privaat, maar hy het die vermoë gehad om deur jou hart en siel te kon sien.”
Galloway het Express in 1992vir hoofsaaklik plaaslike swart lesers in Bloemfontein gestig en was 19 jaar daarby betrokke. Die publikasie is later deur die Volksblad-groep oorgekoop en is nou ’n titel van Sentraal24.
Vir die koerant se 30ste verjaardag verlede jaar het hy in ’n spesiale uitgawe geskryf: “Expressis 30 jaar gelede in ’n pakkamer in Mimosastraat 4 gebore. Ons was ’n klein groepie vrydenkers wat iets sinvols met ons lewe wou doen, nog voordat Suid-Afrika nader aan die geskiedkundige 1994-verkiesing gekruip het.”
Hy hetExpressas ’n stukkie van sy siel beskryf wat vir hom ’n persoonlike skatkis van vreugde en pyn was.
Karen Herbert, redakteur van Sentraal24 se gemeenskapskoerante, sê Galloway was passievol oor die kunste.
“Hy het destyds die Spontaan-talentkompetisie begin om nuwe talent te ontgin, en bekende kunstenaars se loopbaan het by die kompetisie begin,” sê Herbert.
“Hy sou self etlike kilometers na dorpe in die Vrystaat en Noord-Kaap aflê om die oudisies by te woon.”
Herbert sê Galloway het oor ’n fyn humorsin beskik en het ’n liefde vir sy medemens gehad.
“Hy wou almal wat in nood is, help – sou die kos uit sy eie mond vir ander in nood gee.”
Sy sê Galloway was ’n rolmodel en mentor wat die potensiaal in mense raakgesien het.
“Hy het belangrike werk in die gemeenskappe van Bloemfontein en die Vrystaat verrig.”
Galloway het dié werk voortgesit toe hy na die Kaap verhuis het. Hier was hy veral by die gemeenskappe van Grabouw en Elgin betrokke, waar hy gereeld praatjies aangebied en opleiding verskaf het.
Boodskappe van medelye stroom in op die sosiale media.
Coleen Bosch skryf: “Andy, jy het so ’n lus vir die lewe gehad. Jy was altyd vriendelik en het nooit ’n slegte woord oor enigeen gesê nie.
“Ek sal nooit die dag vergeet toe jy ’n paartjie en hul kind, wat vir ’n taxi gewag het, ’n rygeleentheid gegee het en vir hul seuntjie R20 vir lekkertjies nie.
“Jou vriendelikheid teenoor mense was altyd so inspirerend.
“Ek wens ons het almal jou gawe gehad om te weet wanneer iemand in nood verkeer.”
- Galloway was ’n boorling van die Noord-Kaap, waar hy aan die Hoërskool Postmasburg gematrikuleer het.
Hy het ná skool aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) in Bloemfontein gestudeer.