Zelné du Plessis
Zelné du Plessis Credit: Verskaf

‘n Saak van motorkaping, ontvoering en roof word deur die polisie in Postmasburg ondersoek nadat ‘n jong vrou van dié Noord-Kaapse dorp vroeg Woensdagmiddag 4 Junie as vermis aangemeld is.

Die 20-jarige Zelné du Plessis is dieselfde dag, omstreeks 19:00, ongedeerd langs die Witsand-grondpad tussen Postmasburg en Griekwastad gevind. Hoewel ongedeerd, was sy in skok.

Volgens lt.kol. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, het twee mans Woensdag omstreeks 16:30 in haar voertuig gespring toe sy by ‘n vierrigtingstop in die middedorp stilgehou het. Die mans, met balaklawas, het haar gedwing om uit die dorp te ry.

Die voertuig waarin Zelné du Plessis van Postmasburg op Woensdagmiddag gekaap is. Foto: Facebook

Gedurende die soektog na haar is sy in ‘n plasing van ‘n plaaslike groep op ‘n sosialemediaplatform as ‘n introvert beskryf wat glad nie kuier of uitgaan nie, met sober gewoontes.

Volgens die plasing is sy Woensdag omstreeks 13:30 laas by haar ouerhuis gesien toe sy op pad na ‘n sakeonderneming in die dorp was. Toe sy nie terugkeer van die dorp nie, het haar ouers haar as vermis aangemeld en ‘n soektog is dadelik begin.

Sy is omstreeks 19:00 by haar voertuig langs die Witsand-grondpad gevind. Daar word beweer dat die voertuig sonder petrol geraak het en die twee mans wat haar gekaap het, te voet met haar selfoon gevlug het.

Haar familie bedank elkeen van die Postmasburg-gemeenskap wat in die soektog gehelp het, en ook ondersteuning op ander maniere verskaf het.

‘n Soektog na die verdagtes is van stapel gestuur, sê Kock.

Enigiemand met inligting kan die speurders van die polisie in Postmasburg by 082 302 0391 skakel, of die polisie se stopmisdaad-nommer 08600 10111, of inligting deurgee op die MySaps-app.

Alle inligting sal as vertroulik hanteer word.

You need to be Logged In to leave a comment.