Agt van die land se voorste tennisskole trek vandeesweek in Bloemfontein saam om mee te ding om die nie-amptelike titel as Suid-Afrika se voorste meisieskolespan.
Die Amanda Coetzer-tennistoernooi word ná ’n afwesigheid van twee jaar weer by die Hoër Meisieskool Oranje aangebied. Dit duur van 11 tot 14 Mei. Wedstryde begin om 09:00.
Die toernooi is vernoem na die oudleerling van die skool wat die meeste sukses nog as ’n Suid-Afrikaanse vrouespeler behaal het. Sy was in 1997 nommer drie op die wêreldranglys.
Die deelnemende skole is die Rhenish Girls’ High School, Hoërskool Waterkloof, Hoërskool Menlopark, Hoër Meisieskool Bloemhof, Afrikaans Hoër Meisieskool Pretoria, Hoër Meisieskool Paarl, Paarl Gimnasium en Oranje.
Bloemhof, met 13 titels, is die toernooi se mees suksesvolle skool en is die verdedigende kampioen.
Oranje (2012, 2013, 2015 en 2018) en Waterkloof was elkeen vier keer die kampioen.
Oranje het in Maart vanjaar die eerste slag geslaan deur Bloemhof in die eindstryd van die Gerrie Berner-toernooi in die Paarl te klop en sodoende dié trofee die eerste keer sedert 2015 te verower.