Bloemfonteiners kan binnekort lekker saamlag oor Mel die Storieverteller se kwinkslae wanneer sy in die stad kom kuier.
Melanie du Toit, het bekendheid verwerf met haar komiese TikTok-videos en skerp sê-goed.
Sy het haar dramagraad aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi en het in 2015 haar eie dramaskool begin. Sy het al talle verhoogstukke geskryf en ook haar eerste kinderboek in 2020 gepubliseer.
In Januarie 2021 het sy haar eerste TikTok-video onder die naam Mel die Storieverteller gemaak.
Die video’s op sosiale media is nie net humoristies nie, maar pak ook belangrike kwessies oor die liefde en die bemagtiging van vroue.
Haar eerste komiese een-vrou stuk Almal is Mal het verlede jaar verskyn en die eerste vertoning in die Atterbury-teater was uitverkoop.
Sedertdien het sy haar vinnig gevestig as seremoniemeester, spreker en komediant.
Mel die Storieverteller kuier op Donderdag 7 Maart by The Buffalo met haar nuutste vertoning Dik Deurmekaar.
Die vertoning laat die lyne tussen ‘stand-up comedy’ en ‘n verhalende een-vrou vertoning vervaag. Sy gesels en vertel van die eerste keer toe sy die sensasie van ‘deurmekaargeid’ ervaar het in Juffrou Draak se klas en hoe sy die res van haar skooljare toe maar begin vrede maak het met die feit dat alles, veral matriekafskeide en haarstyle, ‘n hengse deurmekaarspul is.
Mel lewer ook haar komiese opinie oor die onverstaanbare obsessie met visvang en ander mense se seksuele oriëntasie en deel snaakse waarnemings van ‘straight couples’, die landslied, slimfone en ‘fancy’ karre.
Mel se stories slaan jou met die waarheid, maar dis ‘n sagte hou verbloem in interessante staaltjies en onverwagse kwinkslae. Dik Deurmekaar ontroer ‘n spesiale nostalgiese gevoel waarby almal kan aanklank vind.
Haar unieke manier van dinge raakvat en saamvat en uitbeeld maak dat gehore die hele 60-minute deur aan haar lippe hang.
Mel belowe nie dat die vertoning volgens plan gaan verloop nie, want soms is die lekkerste deel van die vertoning om bietjie gek te skeer met gehoorlede en dan duik nuwe grappies op so tussendeur die stories – dus moet jy met omsigtigheid jou kaartjies bespreek.
Die vertoning begin die aand om 19:00 by The Buffalo.
Kaartjie kos R150 en is beskikbaar by Quicket of deur 084-664-4676 te skakel.